Vrouedag 2024: vieringe en verandering

[Isabella Huisamen]

“Where there is a woman there is magic.” – Ntozake Shange

Nasionale Vrouedag is om die draai en dit is daar om ons te herinner aan die vordering wat vroue gemaak het. Vroue verskuif op elke gebied grense en daag gereeld sosiale norme uit; vroue hou aan om die onmoontlike na die moontlike te verander. Hierdie dag vier nie net hul prestasies nie, dit beklemtoon die aanhoudende stryd teen geslagsongelykheid. 

Die Suid-Afrikaanse regering het 9 Augustus as Nasionale Vrouedag geklassifiseer. Dit is vir die herdenking van 20 000 vroue wat in 1956 na die Uniegebou gemarsjeer het om teen paswette te betoog wat gemik is op swart vroue. Die optog is gelei deur Helen Joseph, Lillian Ngoyi, Rahima Moosa en Sophia Williams. Daardie dag behou diep geskiedkundige en kulturele betekenis. Dit bring hulde aan die braafheid van vroue oor die hele nasie.

Die vieringe van Vrouedag sluit kulturele optredes, uitstallings wat vrouens se harde werk uitbeeld in die besigheidswêreld, kuns en selfs die politieke wêreld waar vrouens tot vandag toe nog baklei vir geslagsgelykheid en vroueregte, in. Een van die hoogtepunte van Vrouedag is die herkenning van vrouens wat al hul lewe lank passievol is oor vroueregte en ‘n verskil wil maak in die wêreld. Terwyl Nasionale Vrouedag vier hoe ver vroueregte en geslagsgelykheid gekom het, is dit ook belangrik om te erken wat nog gedoen moet word. Volgens die Verenigde Nasies maak vroue 70% van die wêreld se 1,3 biljoen arm mense uit. Van mense wat deur klimaatverwante rampe dakloos gelaat is, is 80% vroue en meisies. Die pandemie het dinge vir vroue en meisies ook vererger. Vroue beleef erger sosiale en ekonomiese gevolge as mans. Dit sal baie harde werk vereis om die effekte om te keer en mans en vrouens gelyk te maak.

In stede soos Kaapstad en Durban, hou plaaslike besighede werkswinkels en gesprekke gemik op die opbou van vrouens, en om kwessies aan te spreek soos geslagsgebaseerde geweld, ekonomiese ongelykheid en toegang tot onderwys. 

Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie se Afrika-afdeling is hierdie jaar se tema vir Internasionale Vrouedag: Invest in women: Accelerate Progress. Dit beklemtoon die belangrikheid van vrouebemagtiging en hul reg tot ‘n gesonde en veilige lewe. Dit is ‘n baie belangrike deel van die ontwikkeling van die toekoms. Vroueregte is byna 70 jaar gelede deur die Verenigde Nasies vir elke mens op die planeet vasgelê. Hierdie regte sluit die reg in om vry van geweld, slawerny en diskriminasie te lewe; om opgevoed te word; eiendom te besit; om te stem; en om ‘n billike en gelyke loon of salaris te verdien.

Die bekende gesegde, “Vroueregte is menseregte” sê dat vroue geregtig is op al hierdie regte. Tog word daar nog steeds teen vroue en meisies regoor die wêreld gediskrimineer, bloot weens hul geslag. Om regte vir vroue te wen, gaan oor meer as om geleenthede aan enige individuele vrou of meisie te gee. Dit gaan ook daaroor om te verander hoe lande en gemeenskappe werk. Dit behels die verandering van wette en beleide, die wen van harte en gedagtes, en belegging in sterk vroue-organisasies en -bewegings.

Soos wat ons as ‘n nasie Vrouedag vier, kan ons baie dankbaar wees vir die verskil wat daagliks gemaak word, tog is daar nog so baie om te doen om mans en vroue gelyk te maak. 

Geniet Vrouedag, DF!

Isabella Huisamen

Isabella is mal oor hokkie en swem. Wanneer sy nie besig is op die sportveld nie, spandeer sy tyd met haar hond.