Warm harte in ‘n koue winter

[Emma Schneeberger]

Wanneer die koue winterweer aanbreek, sien baie mense daarna uit om ‘n koppie warmsjokolade onder ‘n hoop komberse te geniet. Maar vir baie gesinne is warm klere, skoene en komberse nie vanselfsprekend nie. 

Gedurende die winter raak die behoefte aan hierdie noodsaaklikhede nog groter. Maar hoe kan DF help? Ons kan bruikbare wintersklere, skoene en komberse skenk en so kan leerders, ouers en personeellede help om minderbevoorregte gesinne te ondersteun. Verskeie organisasies in Kaapstad aanvaar klere en ander bruikbare items. 

U-turn Charity Stores  

  • Hulle aanvaar hoofsaaklik klere, maar ook huishoudelike items. 
  • Die inkomste wat hul ougoed-snuffelinkopiewinkels maak, help hawelose mense met behuising, werksopleiding en ondersteuning om weer hul voete in die samelewing te vind. 
  • Hulle het winkels regoor Kaapstad, maar vir Dee-Effers sal die Durbanville-, Kenilworth- of Tygerberg-takke die naaste wees. 

Kontakbesonderhede: 087 550 5269

St Luke’s Hospice 

  • Hulle verkoop geskenkte klere, boeke en speelgoed om geld in te samel vir terminaal siek pasiënte, tesame met die nodige berading vir families wat ‘n geliefde verloor het.
  • Hulle winkels is wyd verspreid, vanaf Houtbaai en Milnerton tot in Wynberg. 

Kontakbesonderhede: 021 797 5335 

The Haven Night Shelter 

  • Hulle het ‘n groot behoefte aan mans- en wintersklere, sowel as komberse en skoene vir mense wat haweloos is. 
  • Hierdie organisasie bied skuilings in Kraaifontein, sowel as Kensington, asook fisiese en emosionele hulp aan gebroke families.

Kontakbesonderhede: 021 254 4700 

Help the Rural Child 

  • Hulle verkoop geskenkte klere, boeke, meubels of soos hul webtuiste sê: “Amper enige iets anders waaraan jy kan dink.” Wins uit hierdie verkope gaan aan programme om vir kwesbare kinders in die gemeenskap ondersteuning te bied.
  • Hulle het winkels in Adderley Straat, Victoria Straat en Arthur Straat. 

Kontakbesonderhede: 021 689 8392 

Saartjie Baartman Centre for Women and Children 

  • Hulle aanvaar vroue- en kinderklere, tesame met higiëniese produkte en beddegoed vir slagoffers van mishandeling. 
  • Donasies kan ook op hul webtuiste gemaak word (The Saartjie Baartman Centre for Women and Children)  
  • Hulle het ‘n sentrum in Klipfontein Straat, waar mishandelde vrouens en kinders skuiling en berading kan kry.

Kontakbesonderhede: 021 633 5287 

Ander organisasies, soos Lifeline Charity Shop, The Salvation Army en Home of Hope, verwelkom ook skenkings en donasies.  Jou ou trui of baadjie kan veel meer beteken as net ‘n kledingstuk – dit kan warmte en daardie ekstra bietjie liefde bring aan iemand wat dit nodig het.  

Emma Schneeberger

 Emma is ‘n graad 9-leerder wat mal is oor swem, lees en dans. Sy spandeer graag tyd saam met familie en vriende.