Wat dink Dee-Effers?

[Ellie Herbst]

Die leerders is die grootste belangegroep by DF. Hulle is ook die groep mense wat die meeste geraak word deur nuwe reëls en veranderinge. Dit is dus belangrik dat hulle die geleentheid gegee word om hul opinies te gee oor hoe hulle geraak word en hoe hulle daaroor voel. 

’n Steekproef van 40 leerders van graad 9 tot graad 12 van beide geslagte is gevra om vrywillig hul menings te lug oor die veranderinge wat aan die begin van die jaar by die skool gemaak is. Graad 8’s het nog nie die ervaring om die nuwe met die oue te vergelyk nie. Gradering en kommentaar is gelewer oor die volgende punte:

A: Die naamverandering

B: Die nuwe uittekenmetode

C: Die strenger voorkomsreëls

D: Die 10-dag siklus

E: Die nuwe skoolhoof

Leerders moes die veranderinge gradeer op ’n skaal van 1 tot 5:

5: Ek dink die verandering is ’n baie goeie idee of los die probleem effektief op.

4: Ek dink die verandering is ’n goeie idee of los die probleem goed genoeg op.

3: Ek voel neutraal oor die verandering. 

2: Ek dink die verandering is ’n slegte idee of los nie die probleem goed genoeg op nie.

1: Ek dink die verandering is ’n baie slegte idee of los nie die probleem op nie.

Deelnemers is ook die geleentheid gegee om verdere kommentaar oor die veranderinge neer te skryf. Alle leerders wat kommentaar gelewer het, het gekies om anoniem te bly.

A: Die naamverandering

Die naamverandering het jare geneem as gevolg van ‘n uitgerekte regsproses wat in die hooggeregshof gedraai het. In 2026 het die naam uiteindelik amptelik verander. Daar is ander kleiner veranderinge wat gemaak is as gevolg hiervan: die skoollied is aangepas, die sportklere het verander, e-posadresse is aangepas en MTBS het DTBS geword. 

Persentasie leerders wat die volgende graderings gegee het:

5: 32,5

4: 20

3: 37,5

2: 10

1: 0

Gemiddelde gradering: 3,75

Baie leerders voel goed oor die naamverandering. DF het lankal ’n nuwe blaadjie omgeslaan, die naamverandering was net die finale stap, ’n simbool van hoe vêr ons skool al gekom het.

Daar is ook baie leerders wat neutraal voel oor die naamverandering, want soos al baie gesê is: DF bly die DF wat ons huidige leerders ken. Ons gees, waardes en samehorigheid is dieselfde as wat dit laas jaar was, al het die naam verander.

B: Die nuwe uittekenmetode  

Dié jaar het DF nie meer ’n dissiplinekamer nie. Die reëls oor uitteken as jy siek is, is soos volg: “As jy siek is, bly by die huis. As jy siek word by die skool, tough luck.” Die doel van dié nuwe reël is om die hoeveelheid kinders wat uitteken (en dus skool misloop) te verminder. 

Persentasie leerders wat die volgende graderings gegee het:

5: 0

4: 2,5

3: 15

2: 35

1: 47,5

Gemiddelde gradering: 1,73

Dit is die verandering waaroor die meeste mense kommentaar geskryf het:

“Die nuwe uittekenreëls is simpel. Daar is gevalle waar kinders in nood is om uit te teken wat nie net braak of bloei is nie. Daar is baie verskillende siektes wat nie net opgooi veroorsaak nie. Dit is ook algemeen dat simptome eers later in die dag verskyn. As ’n kind in ’n toestand is waar hulle nie kan funksioneer in die skool nie, fisies of sielkundig, het hulle die reg om uit te teken.”

“Die uittekensisteem is te streng. Ek voel nie dat die vorige sisteem oneffektief was nie. Ek glo dit was regverdig. Die nuwe sisteem gee nie genoeg buigsaamheid nie.”

“Die nuwe uittekenreëls is gevaarlik, nie net vir die siek persoon nie, maar ook vir die leerders om hulle. Siektes kan baie vining erger word. Baie leerders dra nie medikasie saam met hulle wat gebruik kan word as hulle ’n koors ontwikkel nie. Hulle loop ook die risiko om baie meer mense aan te steek as wat hulle sou indien hulle net vroeër kon uitteken en huis toe gaan.”

C: Die strenger voorkomsreëls

Die voorkoms van die leerders is nog altyd as belangrik geag, omdat die leerders die skool verteenwoordig. Klere, hare, naels en juwele word gereeld geïnspekteer. Hiérdie jaar laat ‘n oortreding jou onmíddellik in detensie beland, daar is geen waarskuwings nie. 

Persentasie leerders wat die volgende graderings gegee het:

5: 2,5

4: 5

3: 25

2: 55

1: 12,5

Gemiddelde gradering: 2,3

Die hoofrede vir die lae gradering is dat leerders voel dat dit onregverdig en onnodig streng is om geen waarskuwing te gee voordat ’n kind detensie sit nie. Soos juffrou Myburgh altyd sê: “Life happens”. ’n Besige oggend wanneer jy nie tyd het om jou naels te knip nie, wanneer jy die verkeerde rompie gryp wat net effens te klein is, wanneer jy vergeet om die korrekte sokkies aan te trek. Kinders is mense en mense maak foute.

Dit is ook onregverdig om kinders te straf vir iets wat dalk meer met hul ouers te doen het. Hulle ouers het dalk nie tyd om daardie nuwe item te koop nie of om hul seun se hare te knip nie (en partykeer is lang hare netjieser as hare wat jy self geknip het).

Dit is goed om mense te hê wat kinders se hare by die skool kan knip, maar dit is onnodig om dit as ’n straf voor te hou. Dit maak die proses ’n vernedering, wanneer dit eerder geskets kan word as ’n manier om leerders te help.

Nog ’n algemene gevoel in die verdere kommentaar word mooi opgesom in dié persoon se aanhaling:

“Om net detensie te kry sonder waarskuwing as ’n persoon se voorkoms nie op standaard is nie, is ’n ekstreme maatreël. Ek glo dat streng voorkomsreëls net in plek is as gevolg van die ou Engelse manier van skoolgee en die tydsgees van apartheid waarin konformiteit op individue geforseer is. Ons lewe nie meer onder koloniale of apartheidsbeheer nie. Alle streng voorkomsreëls is dus abstrak, outyds en moet afgeskaf word. ’n Student moet kan dra watookal hulle wil so lank dit familievriendelik is, om hul uniekheid te toon.”

D: Die 10-dag siklus

DF het in die verlede gebruik gemaak van ’n 8-dag siklus. Dit is vervang met ’n 10-dag siklus wat op ’n Maandag begin en oor twee weke loop. 

Persentasie leerders wat die volgende graderings gegee het:

5: 65

4: 17,5

3: 17,5

2: 0

1: 0

Gemiddelde gradering: 4,48

Die 10-dag siklus is iets wat baie leerders se lewens vergemaklik het. 

Die lewe by DF is ’n avontuur. Daar is altyd iets nuuts om aan deel te neem en om na uit te sien. Tussen al die opwinding benodig jy natuurlik ook roetine, wat die 10-dag siklus aan leerders gee. Elke Maandag is ’n dag 1 of 6, elke Dinsdag ’n dag 2 of 7 ensovoorts. In plaas daarvan dat elke dag van die week ’n verrassing is, het jy ’n beter idee van wat gaan gebeur en hoe om voor te berei daarvoor. Dit maak dit ook baie makliker om te onthou watter boeke jy moet inpak!

E: Die nuwe skoolhoof

Hierdie jaar het ons nuwe skoolhoof, mnr. Oosthuizen, amptelik by DF begin. Die vorige skoolhoof, mnr. Conradie, het aan die einde van 2025 afgetree. 

Persentasie leerders wat die volgende graderings gegee het:

5: 10

4: 25

3: 62,5

2: 2,5

1: 0

Gemiddelde gradering: 3,43

Tydens die onderhoudproses het baie leerders vertel dat hul neutraal is oor die nuwe hoof omdat hulle hom nog nie goed genoeg ken nie. Iemand het ook in die verdere kommentaarseksie geskryf:

“Die nuwe hoof is baie oulik, maar ek mis die ‘waka papa’.”

Dit is waar vir baie leerders. Die skool is tans in ’n oorgangsperiode en dit gaan tyd neem voordat ons regtig vir ons nuwe hoof kan wys wat dit beteken om deel te wees van DF. Tyd sal leer wat die nuwe hoof alles gaan bereik en ons is opgewonde om deel te wees daarvan.

Gevolgtrekking

Ter opsomming is die nuwe uittekenreëls die ongewildste van die veranderinge en die strenger voorkomsreëls is ook nie juis populêr nie. Die 10-dag siklus is die beste ontvang en die naamverandering is goed ontvang deur die leerders. Ons wag in spanning om te sien hoe die nuwe skoolhoof DF kan verbeter, met die hoop dat die bestuur die leerders se opinies in ag sal neem om uitkomste te vind wat almal bevoordeel.

Ellie Herbst

Ellie is die een wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.