Wat dra ons volgende?

[Caro Thirion]
“Fashion is the most powerful art there is. It’s movement, design, and architecture all in one. It shows the world who we are and who we’d like to be.” — Blair Waldorf

Soos wat die jaar verander, verander modeneigings ook. Wat kan jy in die winkels verwag in 2026? Of selfs op die rooitapyt?

Jeans sal ons nooit verlaat nie
Een kledingstuk wat nooit sal verdwyn nie, is jeans. Hierdie jaar gaan jy baie denim raaksien, veral diep en donker jeans. Gaan baggy jeans wel nog ’n modeneiging wees? Die baie bekende modetydskrif, Vogue, voorspel dat ’n dunner en netjieser snit populêr gaan word. In modeterme, liewer ’n wyepypbroek in plaas van ’n groot en wye snit soos ons vorige jare gesien het.

Die jaarlikse dierepatrone
Elke jaar is daar ’n wildediertekstuur wat almal dra en oral gesien kan word. Van 2019 tot 2022 was die koeikolle baie gewild en in 2023 tot 2025 het almal luiperdpels in hulle klerekaste gehad. Watter dier gaan ons in 2026 sien?
Daar word voorspel dat die Bambi-tekstuur hierdie jaar gaan verskyn. Die sagte takbokkolletjies is al klaar baie gesien by Tory Burch se lente- en somermodeparade van 2026.

Die skoen wat almal dra
Die bekende modesmaakmaker, Emma Chamberlain, het voorspel dat kniehoogte stewels baie gedra gaan word. Kniehoogte stewels is al baie gesien op die modeloopplank, so hulle verdien definitief ’n plek in jou kas.

Juwele
Ten opsigte van juwele bly dit maar dieselfde: groot juwele wat aandag trek bly vir 2026. Oorgroot oorbelle en hangertjies staan nog sterk. Soos ons gesien het in 2025, was dit bonkige en dominante juwele wat almal gedra het.

Teksture vir almal
Hierdie jaar gaan jy baie meer kant en valletjies sien. Die twee voorbeelde kom baie voor in die boho-styl, wat ligte kleure en warm skakerings bevat. Baie sagte en romantiese kleure en teksture word al gesien op die modeloopplank, soos byvoorbeeld, Alexander McQueen se herfs- en winterversameling van 2025-2026.
Dit dui ook daarop dat die mode in 2026 gaan wegbeweeg van oorgroot klere en meer fokus plaas op ’n netjieser en luukser styl.

Op die ou einde is die grootste modeneiging vir 2026 om jou eie persoonlike styl te vind, maak nie saak watter jeans of skoene jy dra nie.

Caro Thirion

Caro is ’n graad 11-leerder wat meestal met haar neus in ’n boek sit en aan soveel as moontlik kultuuraktiwiteite deelneem.