Wat gebeur regtig agter die skerms? Is beïnvloeders werklik relevant?

Elske Oosthuizen

Vakansies in Hawaii, ‘n vleklose vel, uitstappies met vriende: die perfekte lewe! Of die perfekte lewe wat beïnvloeders aanlyn probeer voorgee.

Volgens die artikel Teens spend more than 7 hours on screens for entertainment a day: report deur Julia Jacobo, spandeer tieners meer as sewe ure ‘n dag op hul selfone om een eenvoudige rede: vermaak. Hierdie vermaak kom meestal van sosialemediaplatforms, wat juis die tuiste van beïnvloeders is.

Talle mense maak vandag geld deur hulself as beïnvloeders op sosialemediaplatforms te bemark. Wat klassifiseer jou as ‘n  beïnvloeder op ‘n sosialemediaplatform? Jy word as ‘n beïnvloeder geag wanneer jy ‘n groter aantal volgelinge as die gemiddelde sosialemediaverbruiker het. Miljoene mense word daagliks deur beïnvloeders se foto’s en video’s beïnvloed. Beïnvloeders maak geld deur ‘n produk aan jou as verbruiker te bemark. In ruil daarvoor word hul deur die maatskappye wat hulle bemark, betaal. Om erken te word deur ‘n maatskappy, sal beïnvloeders dikwels onetiese stappe neem om groot hoeveelhede volgelinge te kry.

Baie beïnvloeders stel hulself voor as iemand wat hulle nie is nie, sodat hulle as rolmodelle gesien kan word. Volgens die artikel Top 10 influencers That Were Exposed For Their Lies deur Arjun Jain, is daar talle beïnvloeders wat leuens oor hul lewenstyle sal deel om gewildheid onder sekere groepe op sosiale media te verkry.

Hoe kan beïnvloeders jou verlei? Volgens die  artikel How do influencers Edit Photos? deur Furoore, gebruik die meeste beïnvloeders programme om hul foto’s te verander totdat dit perfek lyk. Beïnvloeders sal dus baie anders in die regte lewe lyk as op jou selfoon.

Beïnvloeders sal ook ‘n handelsmerk se produkte bemark vir geld. Dikwels gebruik hulle nie eens hierdie produkte nie. Hierdie resensies wat hulle op sosiale media plaas, is dus geneig om vals te wees. Volgens die artikel Why Do Influencers Promote Products That They Don’t Use? deur Ryan Nephew, is daar soms handelsmerkonderskrywings wat twyfelagtig kan wees. Party beïnvloeders gee nie om wat hulle bemark nie, solank soos wat hulle vergoed word. Daar word ook geskryf dat geborgde posts nie goed gereguleer word nie. Beïnvloeders kan ‘n produk bemark ongeag of hulle die handelsmerk vertrou of eens die produk gebruik.

Party mense wat hulself aanlyn bemark as beïnvloeders het dalk ook nie eens ‘n welverdiende hoeveelheid volgelinge nie. Hulle kom as beïnvloeders voor, maar die meeste van hul volgelinge bestaan uit gekoopte robotte of vals profiele. Hierdie beïnvloeders is vals beïnvloeders. Daar is wel maniere om hierdie beïnvloeders uit te ken. Volgens die artikel What are fake influencers and how do we spot them? deur Jacqueline Zote, is daar vier hoofmaniere om vals beïnvloeders te herken. Kyk vir ‘n ongewone volgeling-tot-betrokkenheid verhouding. Hulle het dalk  duisende volgelinge, maar die volgelinge sal nie met die inhoud van hul profiel betrokke raak nie. Tweedens kan jy die kwaliteit van betrokkenheid ontleed. Derdens kan jy kyk vir ‘n skielike styging in volgelinge. Laastens kan jy die kwaliteit van die beïnvloeder se gehoor se profiele waarneem.

Dink twee keer voordat jy jouself oordeel en vergelyk met ‘n person se foto’s aanlyn. Wees ook versigtig wanneer jy jou laaste sakgeld op ‘n produk wil spandeer wat ‘n beïnvloeder bemark het. Onthou dat nie alles wat jy aanlyn sien, altyd eties of waar is nie.