Wat niemand jou van graad 8 vertel nie

[Angelina Smit]

Ek is seker dat almal stadig maar seker weer gewoond daaraan raak om vroeg wakker te word, die aand voor die tyd al die regte boeke in te pak en betyds te gaan slaap. Natuurlik moes die graad 8’s ook hierdie nuwe gewoonte aanleer. Ons loer graag in om te sien hoe hulle sover die hoërskool ervaar.

Die graad 8’s se grootste verwagting? Meer vryheid en minder reëls. Hulle sien daarna uit om uiteindelik hul selfone skool toe te bring en soos “regte” hoërskoolleerders te voel, maar toe kom die werklikheid soos ’n koue stort — sommer drie take op een dag, eindelose Wiskunde-somme en huiswerk wat soms voel asof dit nooit ophou nie. 

Dit klink eers rof, maar voor jy jou oë kan uitvee, begin jy in die nuwe ritme inval. Al die hopelose werk sal een van die grootste verrassings van graad 8 wees, maar dit leer jou verantwoordelikheid en tydsbestuur — want in die hoërskool kan jy nie soos ‘n volstuis wees wat sy kop in die sand druk nie.

En dan is daar vriendskappe — iets wat jou hoërskoollewe inkleur. Party bly by hul laerskoolgroepies, ander kom van nuwe skole en ken niemand nie, maar in die hoërskool ontmoet jy baie nuwe mense en voor jy jou oë kan uitvee, het jy sommer twee beste vriende.

Al voel graad 8 aanvanklik moeilik, raak dinge stadig maar seker makliker en jy voel later nie meer soos ’n vis op droë grond nie. Jy leer om onafhanklik te raak, meer oor jouself te ontdek en begin besef dat hoërskool oor veel meer as net boeke en klasse gaan.

Graad 8 is dalk nie presies wat jy verwag het nie, maar dit maak nuwe deure oop en laat nuwe hoofstukke begin. Soms voel dit asof jy in die diep kant ingegooi word — maar dis juis daar waar jy leer swem.

Angelina Smit

Angelina is ‘n graad 8-leerder wat te veel oor flieks en musiek praat. Jy sal haar meestal vir nonsens sien lag en as sy kon, sou sy seker elke dag sushi wou eet.