[Ellie Herbst]
Water is iets wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar.
Na al die droogtes wat Suid-Afrika beleef het, is almal ten minste baie beter met water spaar, maar het jy al ooit ’n ruk gesit en gedink oor hoe wonderlik water regtig is? Hoe belangrik dit is vir jou liggaam? Hoe wonderlik ons oseane is? Of selfs net hoe kosbaar die glasie water, wat jy ’n paar minute terug gedrink het, is?
Hier is 10 interessante feite om jou te laat verstaan hoe wonderlik water, en ons Aarde, is.
- Dit is moontlik om te veel water drink
Te veel van enige goeie ding word ’n slegte ding.
Daar is geen spesifieke hoeveelheid water wat universeel “te veel” vir ’n mens is nie. Dit hang af van fisiese gesondheid, hoe aktief ’n persoon is, of ’n persoon enige gesondheidstoestande het, geslag, ensovoorts. Daar is wel studies wat bewys dat jou niere sowat 1 liter water per uur kan hanteer, so enigiets meer as dit sal nie ’n goeie idee wees nie.
As jy te veel water drink, kan dit jou niere oorweldig wat veroorsaak dat die natrium in jou bloed verdun. Dit staan bekend as waterbedwelming of hiponatremia, wat naarheid, hoofpyn, krampe, verwarring, en in die ergste gevalle, bewussyn verloor, aanvalle en die dood, kan veroorsaak.
- Die feit dat ys op water dryf, is baie meer verstommend as wat jy sou dink
Wanneer ’n vloeistof ’n vastestof word, word die meeste stowwe digter soos wat dit vries. Water word minder dig omdat die molekules hulself in ringe herrangskik en dus is dit die enigste vastestof wat bo-op sy vloeistofvorm sal dryf, wat baie belangrik vir die oseaan is.
As ys nie gedryf het nie, sou die bodem van die see in plaas van die bokant vries. Dit sou veroorsaak dat die ekosisteme onder die golwe vernietig word. Die see sou oor jare van die bodem boontoe vries en ons klimaat drasties verander. Die wêreld sou ook nooit geseënd gewees het met die fliek Titanic nie. Ons kan gelukkig wees dat ys dryf.
- Waarvandaan kom water?
Tydens die vorming van die Aarde was daar bietjie water binne-in die rotse waaruit die Aarde bestaan, maar nêrens naby genoeg om die oseane te vul nie. Komete bestaan meestal uit water in die vorm van ys. Talle wetenskaplikes glo in die teorie dat komete en asteroïde water na ons planeet toe gebring het toe hulle verby die planeet gevlieg het of toe hulle op die Aarde neergestort het.
- Water is die enigste stof op Aarde wat natuurlik in al drie fases van materie voorkom
- Vastestof: ys by die pole
- Vloeistof: oseane, mere, riviere, ensovoorts
- Gas: waterdamp in die lug, byvoorbeeld wolke
- Die Cuyahoga-rivier het al ’n paar keer vlamgevat
Nee, die water self het nie aan die brand geslaan nie, maar die laag olie wat bo-oor die water gedryf het, was vlambaar.
Die olie was ’n gevolg van jare se industriële afval wat die mense in Cleveland aanvaar het as deel van die industrieë wat hul stad ryker gemaak het. Hulle het later besef dat hulle iets aan die besoedeling moes doen. Hulle het de-industrialisasie begin kort voor die rivier se laaste vuur in 1969. Die vuur het $100 000 se skade aan die spoorweë aangerig.
Baie mense het liedjies geskryf oor die vure, en dit het gedien as ’n simbool van wat kan gebeur met ons wêreld as ons nie die planeet beskerm nie.
- Water is een van die beste oplosmiddels op Aarde en word na verwys as die “universele oplosmiddel”
Soute, minerale en selfs metale sal in water oplos. Metale los egter nie veel op nie, want hulle word met ’n laag roes bedek om die metaal te beskerm en te keer dat dit verder oplos.
Opgeloste minerale en voedingstowwe word makliker deur lewende organismes (plante, diere en mense) se liggame vervoer en hulle absorbeer ook makliker só.
- Ons het baie minder vars water as wat jy sou dink
75% van die Aarde se oppervlak is met water bedek. 97% van daardie water is die soutwater wat in die oseaan gevind is. Twee derdes van die Aarde se varswater word in ys gevind by die pole en 30% is grondwater.
So uit die Aarde se 1,53 kwintiljoen tonne water, is al die Aarde se mere, damme, riviere, ensovoorts net 0,1% daarvan.
- Hoekom is daar so baie soutwater op Aarde?
Soos wat water kondenseer, word klein hoeveelhede koolstofdioksied in die reëndruppels opgelos, wat reën ’n klein bietjie suur maak. Dit het ’n laer PH-vlak as suurreën, maar veroorsaak nog steeds dat rotse oor lang tydperke erodeer.
Van daar af vloei die water in riviere in, en neem klein hoeveelhede sout en minerale wat in riviere voorkom na die oseaan. Ons oseaan bestaan al vir ’n paar biljoen jaar, so jy kan maar net dink hoe baie sout al in die oseaan ingevloei het.
- Die oseaan is verskriklik diep
Die diepste wat iemand al geskubaduik het, is 300 meter en die diepste gedeelte van die seebodem is 6 000 meter. Die Marianatrog, die diepste gedeelte van die oseaan, is 11 000 meter onder die golwe. Dit is dieper as wat Everest hoog is. Die druk sou voel asof jy 1 800 olifante probeer balanseer op jou kop!
Meer mense was al op die maan as by die bodem van die Marianatrog as gevolg hiervan. Daar is wel nog steeds baie om te sien op die bodem: antropode, seekomkommers en plastieksakke wat wetenskaplikes in 2018 gevind het.
- Is dit moontlik om water te vervang met enige ander vorm van drinkgoed?
Die hoeveelheid water wat jou liggaam benodig om te kan funksioneer, hang af van persoon tot persoon. Daar is geen wetenskaplike bewyse dat ’n mens agt glase water per dag moet drink nie en jy kry ’n persentasie van die nodige water uit die kos wat jy eet.
“If a paintig looks boring, would you buy it? No. so why should I drink something if it tastes boring?”
- My beste vriendin
Ons ken almal ten minste een mens wat weier om water te drink, want hulle sê dat die tee, koffie en energiedrankies vir hul genoeg is. Hier sal ons fokus op koffie:
Koffie het ’n effek op jou niere wat veroorsaak dat jy meer urineer gedurende die dag. Die vloeistowwe soos water en melk in die koffie vervang wel enige water wat op só ‘n manier verlore gaan.
Dit hang wel af van hoeveel kafeïen jy gedurende die dag inneem. Jy moet sowat 500 milligram inkry voordat dit ’n dehidrerende effek het, wat gelyk is aan ’n hele paar koppies koffie.
So, kan jy koffie drink in plaas van water? Ja. Is dit ’n goeie idee? Dit hang af.
Daar is baie newe-effekte van gereelde koffie drink, goed en sleg. In matige hoeveelhede kan koffie jou help om langer versadig te bly en beter te doen in sport, tot die punt waar kafeïeninname gereguleer word in sporttoernooie. Dit kan jou wel ook meer angstig maak, jou slaappatroon versteur en sleg reageer met jou medikasie.
Drink asseblief water, Pa.
Water is ’n wonderlike hulpbron, die lewensbloed van alles wat op die Aarde woon. Ons moet saamwerk om ons beperkte hulpbronne te bespaar en sodoende ons toekoms bewaar.
Ellie Herbst
Ellie is die een wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.