[Bella Huisamen]
Dit is ʼn nuwe jaar met nuwe geleenthede en veranderinge, veral vir ons nuwe graad 8-groep van 2025, die Warrels. Een van die Warrels se grootste veranderings vir hierdie jaar is om die oorgang van die laerskool na die hoërskool suksesvol te oorbrug.
Hoërskool is ʼn baie groot verandering en dwing jou so ‘n bietjie om uit jou gemaksone te kom. Die graad 8’s het hulle hoërskoolloopbaan op Dinsdag, 14 Januarie begin met die tradisionele atletiekdag. Hier het hulle klaar ʼn idee gekry van wat vir hulle voorlê. Woensdag het die oorbruggingsfase afgeskop en hulle is amptelik gedoop as Warrels. Hierdie dag het begin met die matrieks wat vir die Warrels op die regte manier verwelkom het in DF Malan. Die res van die dag was net ʼn algemene inligtingsdag van wat om te verwag vir die res van die week.
Donderdag was ʼn bedrywige dag met opwindende aktiwiteite en speletjies. Die nuwe graad 8’s het MTBS-medleys geleer en die dag afgesluit met ʼn heerlike braai. Vrydag het hulle die groot strandstap aangepak en is hulle nou amper volwaardige Dee-Effers. Na hulle baadjieplegtigheid, is hulle bloed nou amptelik blou en hulle pak hulle eerste volle week van hoërskool aan.
Drie graad agt-leerders, Sarah Brooks, Ryan Few en Nicolaas Lombard, het hulle perspektief gedeel oor die hoërskool en hoe dit vir hulle verskil van die laerskool.
Wat was vir jou die grootste verandering van die laerskool na die hoërskool?
Sarah: Die onderwysers behandel jou meer soos volwassenes.
Ryan: Die grootste verandering vir my is die pas waarteen alles gedoen word en die feit dat jy baie meer verantwoordelikheid moet neem as in graad 7-leerder. Jou ouers is ook nou minder betrokke as in die laerskool.
Nicolaas: Ons het nou baie meer vakke en ons moet wissel tussen klasse.
Hoe het jy gevoel oor jou eerste dag in die hoërskool?
Nicolaas: Ek was baie angstig en bang vir die matrieks.
Ryan: Ek was baie opgewonde, maar ook op my senuwees aangesien ons onlangs Kaap toe getrek het en ek niemand by die skool geken het nie.
Sarah: Dit was ʼn mengsel van opgewondenheid en vrees.
Wat is iets wat vir jou baie verbasend was van die hoërskool?
Sarah: Die skool is soveel groter as wat jy sou dink.
Nicolaas: Daar is baie meer mense in ‘n klas as wat ek gedink het.
Ryan: Dit is baie meer pret as wat ek verwag het.
Watter advies sal jy vir iemand gee wat volgende jaar met hoërskool begin?
Ryan: Skryf jou naam op vir alles! Lag vir jouself tydens die oorbruggingsweek en geniet elke oomblik. Jy is net een keer ‘n Warrel!
Nicolaas: Kry ‘n groot sak en probeer so min as moontlik sakke ronddra. Hoërskool is nie ‘n grap nie.
Sarah: Wees betrokke en maak nuwe vriende.
Hierdie antwoorde bewys net weereens dat almal hoërskool verskillend beleef. Hoërskool is ʼn baie groot stap van die laerskool af, maar as jy by jou morele waardes bly en nie bang is om heeltyd nuwe ervaringe te probeer nie, sal jy sommer vinnig-vinnig inval en tuis begin voel.
Bella Huisamen
Isabella is mal oor hokkie en swem. Wanneer sy nie besig is op die sportveld nie, spandeer sy tyd met haar hond.