[Nienke de Vaal & Mieke Verster]
Hierdie uitgawe is werklik gevul met iets van elke soort. Van WP se jongste skeidsregter tot hoeveel koekies Kersvader hierdie jaar geëet het, kan jy vind net waarvoor jy lus het om te lees na ‘n lang dag.
Met die Warrels se aankoms by DF het hulle vinnig besef hoe die Wilde Weste werk. Die SR en MR het seker gemaak die angstige graad aggies tuis voel in die onbekende omgewing waar daar om elke hoek vir hulle nuwe ervarings en uitdagings wag. Hulle het beslis nog ’n lang pad van DF avonture wat voorlê. As jy graag die ontgroening vannuit die oogpunt van dié aan die onderkant van die ranglys wil beleef kan jy gerus in hierdie uitgawe daaroor lees. Dalk kan jy dan ’n bietjie meer simpatie vir die graad agt Dee-Effertjies hê wanneer die gange se verkeer hopeloos raak.
Na 3 weke se harde oefening, was daar groot teleurstelling toe DF met net een en ‘n kwart punt die MTBS Flahes verloor het, maar tussen die lang gesigte was daar ook baie opgewondenheid toe ons alweer as die geesbeeste aangekondig is. Na ‘n volle dag van sing, dans en baie die pawiljoen ruk, kon jy die trots op ons dirigente, Phillip Mouton, Saskia Briërs, Ethan Kondowe, Lara Theron, Sebastian Gelderblom, Janke van Niekerk, Margo du Toit en Charl Pentz, se gesigte sien toe ons weer die MTBS geesbeker huis toe gebring het. Nie net was ons gees alweer in ‘n ander klas nie, maar ons atlete het ook geskitter op die baan en ons almal het ‘n ekstra bietjie energie gekry om vir hulle te skree. Ons sȇ baie dankie aan Hoërskool Tygerberg wat hierdie jaar as gasheerskool opgetree het en seker gemaak het dat die dag seepglad gevloei het, asook al die onderwysers wat betrokke was by hierdie jaar se MTBS. Nou kan ons met trotsheid sê dat ons bloed verseker blou is.
Somerbal. Die hartjie belaaide Valentynsdag was die perfekte geleentheid om jou date met ’n bos blomme en sjokolade uit te vra. Dit was dus seker geen toeval dat daar soveel rooi rokke op die dansvloer die aand van die 14`de Februarie te siene was nie. Die Seniors het almal geskitter. Boonop het daar al ’n paar gretige matriek ouens die kans aan gegryp om die groot vraag te vra: “Matriek afskeid 2025?” Ons is opgewonde om te sien watter ander kreatiewe “kollig koere” nog deur die jaar gaan verskyn, maar vir nou moet die leerders hulle koppe na akademie se kant toe draai.
Met die toetsreeks wat op almal se lippe hang, word ons tyd min en die werk al hoe meer. Die matrieks maak reg vir hul laaste toetsreeks en die graad aggies het nog geen idee wat vir hulle voorlê nie. Met almal se stres wat veels te hoog loop vir so vroeg in jaar, is dit dalk ‘n goeie idee om ‘n plan van aksie te vorm om die jaar op ‘n goeie noot akademies te begin. Gaan lees gerus Caylin Parker se artikel oor hoe om hierdie jaar met waagmoed aan te pak en vind dalk bietjie motivering om jou boeke vroegtydig hierdie jaar oop te maak.
Hierdie uitgawe van die Herout is amper net so bedrywig soos die afgelope paar weke agter ons. Met almal wat na besige skooldae moeg by die huis aankom is dié uitgawe die beste rede vir jou om jou skoene uit te skop en ’n bietjie te ontspan met kraakvars leesstof.
Nienke de Vaal & Mieke Verster