Wenke om uit die moeras van onkunde te ontsnap

Eileen J Vermeulen 

Die kwartaal skop af. Ons kuier saam met vriende, kom bymekaar vir koffie by die Koffieblik en begin met die jaar se werk. Net daar besef jy dat jy alreeds oorwerk, oorstuur, oorbluf en oorweldig is deur al die akademie.

Maar moenie kommer nie. Hier gee DF se topstudente hulle wenke om jou akademiese alie in 2023 te red.

Alexander Volschenk (matriekleerder, sewende op die top 20 en hoofmentor):  “Soek ongemak. Werk aan die dele van die onderwerp of vak wat jou die meeste uitdaag. Moenie tyd mors met eenvoudige wiskundesomme of -begrippe nie. Daag jouself uit. Vind die moeilikste werk en doen dit.”

“’n Spier kan net groei wanneer hy skeur. Spiere skeur op mikroskopiese vlak onder spanning en dit is hoe dit groei. Dit is anders as met ’n groot skeur wat permanente skade veroorsaak. Net so, sal jou brein ontwikkel onder druk,” sê hy.

Francé Esterhuyse (matriekleerder, elfde op die top 20, seniorraadslid en ‘n MTBS-dromspeler): “Ek dink die belangrikste is om seker te maak jy wend jou tyd produktief aan. Dit help nie jy spandeer ure voor jou  boeke, maar werk onproduktief nie. Indien dit die geval is, sal ek voorstel dat jy liewer gaan draf of met die hond gaan stap of iets doen wat jy geniet en dan later weer probeer leer.”

“Verder is dit ook ‘n goeie idee om elke dag die werk wat in die klas gedoen is, vas te lê. Dit sal verseker dat dit die memoriseringsproses  vinniger is wanneer die eksamen aanbreek.”

Ben Minnaar (matriekleerder, 17de op die top 20 en die hoofseun van 2023): “Sodra jy nader aan die eksamen kom, moet ‘n mens een of ander tyd begin leer en ’n mens is nooit in die bui om te begin nie, maar jy moet. Ek glo ons raak baie lief vir die term procrastinateen sal alles doen, behalwe leer. My wenk is dus om te begin met enige werk, al is dit simpel, solank dit net te doen het met daardie vak. Soos byvoorbeeld om dit deur te lees of te highlight en dus geleidelik weer in die eksamenroetine te kom.”

“Begin met die vak waarvoor jy die minste lus is. Leer jou fokustye ken. Laat ek verduidelik met ‘n voorbeeld: Ek weet dat ek na ses in die aand, drie maal so lank neem om iets te leer as vroeër in die dag. So as ek iets met my vriende wil gaan doen, dan sal ek dit altyd so laat as moontlik daardie dag reël.”

“Maak seker jy eet en drink genoeg water – of koffie. Aangesien ‘n mens net stil sit en nie baie aktief is terwyl jy leer nie, is jou eetlus nie so groot nie.”

“Oefen, kry vars lug. Ek sê nie jy moet nou ‘n marathon gaan hardloop nie, maar maak seker dat jy iewers deur die dag aktief is. Ek klim byvoorbeeld op my skaatsplank en gaan ry deur die strate vir ‘n halfuur of so.”

Carli Carstens (matriekleerder, vierde op die top 20 en ‘n lid van die kultuurkomitee): “Gaan slaap vroeg. Dit klink overrated, maar dit help nie jy forseer jou oë oop twaalfuur die aand om die laaste bietjie in te druk nie. Jy neem die meeste in tydens die oggend.”

“Skryf met ‘n blou pen en gebruik kleurkodes wat vir jou werk. Daar is studies wat beweer dat blou jou geheue verbeter.”

“As jy soos ek is en sukkel om te konsentreer, help dit om in ’n omgewing te wees waar die mense om jou ook werk. Indien die skool studielokale allokeer, help dit om daar te leer, al skryf jy nie daardie dag iets nie.”

Anieka Wolmarans (matriekleerder, eerste op die top 20 en die hoofdogter van 2023): “Die eerste ding wat ek sal sê, (erge cliché) is luister in die klas. Ek dink nie kinders besef die waarde daarvan nie, want as jy in die eksamen kom en dan ‘n hoofstuk oopmaak om te leer, maar nie weet waar om te begin nie, is dit nag. Luister is van onskatbare waarde.”

“Nommer twee: Tyd is verskriklik belangrik. Ek weet onderwysers sê baie vir ons om vroegtydig te beplan en om vir jou ’n rooster op te stel. Dis eintlik hoekom die luister in klas en die tydfaktor hand aan hand gaan. As jy luister in die klas, gaan jy ook weet hoeveel werk dit eintlik is en jy gaan dan ‘n realistiese manier van dink hê. Byvoorbeeld, jy gaan nie vir jouself net een dag gee om 200 bladsye biologie te leer nie. Bestuur daarom jou tyd baie goed.”

Anieka vind ook Renke Lorio (matriekleerder van 2021, eerste op die top 20, top 20 in die Wes-Kaap en Herout-redaktrise) se wenke behulpsaam. Renke het gesê dat wanneer jy besig is om iets te leer en jy verstaan die kernbeginsel of -konsep baie goed en jy kan dit toepas in enige voorbeeld, dan is jy reg vir enige vraag. As jy dan nog tyd het, dan kan jy met liefde die klein goedjies of ektra feite byleer. Die punt is dat die toetse 90% van die keer so opgestel is om daai basiese konsep of beginsels te toets. As jy dit nie verstaan nie, kan jy nie die res doen nie. Met ander woorde, fokus liewer daarop om die basiese goed te verstaan en lê baie meer klem daarop en maak seker jy ken dit. Nege uit tien keer vra hulle nie die vreemde term wat in die kantlyn staan nie.”

Om op te som: Soek ongemak, luister na Francé en gaan stap met jou hond, lê die klaswerk vas, lees of highlight net om aan die gang te kom, leer jou fokustye ken, eet en drink genoeg, oefen, gaan slaap vroeg, gebruik kleurkodes, vat genoeg pouses, kry ’n omgewing waar ander ook werk, luister in die klas, beplan vroegtydig en leer eerder die konsep as die vreemde terme in die kantlyn.

Daar het jy dit, DF. Nou is daar geen verskoning vir vrot punte nie.