Wenners

[Andrea van Wyk]

Die lewe is ‘n wedloop. Elkeen moet vir homself hardloop en elkeen moet probeer om by die wenstreep uit te kom.

Die wedloop is moeilik. Langs die pad is daar dinge wat jou aandag aftrek en jou probeer keer om te wen. Daar is ook fases. Elke fase het verskillende struikelblokke en uitdagings. Op die oomblik bevind ek myself naby die einde van die fase “hoërskool” wat ‘n fase met báie uitdagings is.

Langs die pad het ek baie raad gekry wat die wedloop ‘n bietjie makliker gemaak het. Ek wil daarvan deel om hopelik iemand anders se wedloop makliker te maak:

Moenie te angstig wees oor wat môre kan gebeur nie. Jy het geen idee wat môre kan oplewer nie.

John van de Ruit het geskryf:‘“Life, he said, shaking his head with wonder, you just never can tell.’”

Toe ek dit lees, het hierdie woorde my ‘n oomblik laat stilstaan. Dis eintlik ‘n vreemde ding om aan te dink: enige iets buite jou beheer kan môre met jou gebeur. Dinge waarvan jy nie eens kon droom nie. (Byvoorbeeld jy kan uitvind dat jy familie van die koning van Nederland is of jy kan die liefde van jou lewe ontmoet of alles waaroor jy bekommerd was, kan soos mis voor die son verdwyn – Wie weet?)

So moenie te angstig word oor wat môre kan gebeur nie. Jy het geen idee wat daar vir jou wag nie: nuwe mense, nuwe geleenthede en nuwe doelwitte. Hoe ongelooflik opwindend.

Kyk mooi waarop jy jou tyd spandeer

As ons reeds só min tyd het, hoekom probeer ons ander mense tevrede stel en gelukkig maak in plaas van onsself? Hoe is dit enigsins logies, selfs vir ‘n oomblik, om jouself met mense wat sleg is vir jou te omring of om jouself nie toe te laat om net jy te wees nie?

Gaan doen dinge waarvan jy hou. Spandeer jou tyd met goeie mense en doen goeie dade. Kry ‘n stokperdjie en spandeer tyd en moeite daaraan. Gaan uit en geniet dit en wees net wie jy is.

Matt Rife het gesê: “If you’re on this earth for such a limited amount of time, how insane is it to sit behind your phone and computer and complain about something you don’t like when you have a whole world at your hands of all the things you do like? What an absolute waste of energy, time and emotion.”

Vat dit maar net met `n knippie sout

My vriendin het eendag vir my gesê: “Soms moet ons net onthou ons bly op ‘n swewende rots. Dis regtig nie so diep nie.”

Die mens is ‘n wese wat gereeld oorreageer. Dit is wat lei tot ekstreme angs. Jordan Peterson definieer angs as ‘n persoon se sielkundige toestand wat hulle laat oorreageer op onsekerheid. Daarom,  wanneer ons klein dingetjies so ernstig opvat, lei dit na groot komplikasies.

Moenie dinge te ernstig opvat nie. Meestal is goed nie so diep soos wat ons dit uitmaak nie. Soms moet ons net ons koppe skud vir mense se ongeskikte optrede en dan aanbeweeg – nie onsself so erg ontstel nie. Skud dit maar net af en moet jou nie steur aan onbenullighede nie.

Doen altyd the next best thing

Steven Furtick het vir my hierdie briljante les geleer. Hy het die voorbeeld gebruik van ‘n pa wat mal daaroor sal wees om sy kinders elke dag skool toe te vat, maar op die oomblik sien hy hulle net elke tweede naweek. So hy gaan the next best thing doen en elke tweede naweek laat tel, want dis al wat hy op die oomblik kán doen.

Partykeer beland ons in situasies wat ons hartseer en moedeloos en radeloos maak. Ons is in spasies waar ons nie weet wat om oor sake te doen nie. Ons wil bitter graag hê dat dinge op ‘n sekere manier moet staan, maar op die oomblik is dit baie ver daarvan af. Steven Furtick het gesê dat al wat jy kán doen is the next best thing.

Soms, glo dit of nie, is the next best thing inlyn met jou oorwinnig.

Hou op wag vir ander mense

Gaan doen net wat jy graag wil doen en hou op wag vir mense om dit saam met jou te doen en vir hulle toestemming.  Hou op vrees dat mense jou gaan judge, want om die waarheid te sê – mense gaan jou in elk geval judge of jy nou doen wat jy graag wil of nie. Jy kan dit net sowel gaan geniet en nie heeltyd wag en dit dan misloop nie.

Wen teen jouself

Dit is nie regverdig om jouself met enige iemand anders te vergelyk nie, want ons is almal te ongelooflik verskillend. Ons DNS, ons agtergrond, ons ouers, ons ekonomiese status, alles verskil te veel. Daarom is die enigste regverdige persoon om jouself mee te vergelyk en teen te kompeteer, jy. 

Ons kan almal wenners wees. Maar wenners oor onsself. Ons kan beter wees as die persoon wat ons gister was en beter keuses maak as wat ons laas week gemaak het – dís ‘n wen. Ons kan ons slegte gewoontes oorwin en ons kan beter doen as wat ons laas keer gedoen het.

Ons hoef nie onsself met dieselfde maatstaf te meet as ander mense nie. Ons kompeteer en ons veg teen die ou persoon wat ons op ‘n tyd was. En ons wen. En ons groei.

Hardloop die wedloop met volharding. Hou jou oë op die pad voor jou en moenie links of regs kyk nie. Hardloop met ‘n doel op die wenstreep af.

Wenners, wenners, wenners, wenners wil ons wees
Lewe jy met haat
Lewe jy met vrees
Wenners, wenners, wenners, wenners moet ons wees
Lewe vir ‘n toekoms
Lewe om daar te wees

(Wenners, Danie Botha)

Andrea van Wyk

Andrea (An3a) verteenwoordig ‘n gelukkige bondel energie. Jy sal haar heel waarskynlik langs die sportveld vind in haar noodhulphempie reg om enige besering te behandel – fisies of emosioneel. Om haar dag te maak, is heel eenvoudig:  ‘n vriendelike groet in die gang of ‘n koppie tee enige tyd van die dag.