Werp lig op die donker eeue

[Nienke de Vaal]

Koning Arthur en sy brawe ridders. Gevegte teen drake om prinsesse te red. Mense wat net twee keer ‘n jaar bad. Daar is talle mites en legendes oor die sogenaamde donker eeue, maar hoe baie van wat ons weet, of dink ons weet, van die Middeleeue is eintlik waar?

Die Middeleeue in Europa was ’n besonderse lang tydperk – ‘n duisend jaar om presies te wees. Dit het begin met die val van die Romeinse Ryk in die vyfde eeu, en geëindig in die 15de eeu met die aanbreek van die Italiaanse Renaissance.

Die term “donker eeue” word gewoonlik gebruik om die bygelowige Middeleeue te beskryf omdat dit glo grotendeels ’n tydperk van agteruitgang of stilstand van kennis en kultuur was, maar talle ander dele van die wêreld het gedurende dié tydperk floreer. Europa het ook nie heeltemal barbaars geraak nie.

Baie van ons menings oor die Middeleeue is gebaseer op filosowe en geskiedkundiges van vorige eras se sienings daarvan. Die uitbeelding van die Middeleeue in die media as gewelddadig en donker dra ook by tot ons idee van die donker eeue.

Gedurende die 15de en die 16de eeu, het skoliere ‘n voorkeur gehad vir die Klassieke tydperk wat voor, en die Renaissance tydperk wat na, die Middeleeue gekom het. Die moderne denkers of humaniste van die Renaissance het die term “donker eeue” geskep as ’n manier om hulself van die Middeleeue te onderskei. Hulle het die Middeleeue as ’n kultureel en wetenskaplik dooie tydperk gesien.

In die Viktoriaanse era gedurende die 19de eeu is die Middeleeue geromantiseer. Die romantiese idee van klein Christelike gemeenskappe, hoflikheid, kastele en ridders wat veg vir die liefde van ’n vrou, was aanloklik. Legendes oor die beroemde koning Arthur het ook meer aandag gekry. Tydens die Industriële Revolusie, met sy armoede en onsekerheid oor die toekoms, was die idee van die Middeleeue ’n idealistiese ontsnapping. Die Middeleeue was ’n vorm van inspirasie en fantasie wat veral deur die Pre-Raphaelitiese kuns van byvoorbeeld John William Waterhouse, John Everett Millais, Dante Gabriel Rosetti en vele ander, aangevuur is. Die estetika van die Middeleeue was gesog.

Natuurlik was beide hierdie teenoorgestelde sienings van hierdie tydperk nie waar nie. Daar was goeie en slegte tye gedurende die Middeleeue (nes vandag).

Die Middeleeuse mense was nie so onopgevoed soos wat ons dink nie. Daar is ’n biografie oor Christopher Columbus in 1828 geskryf. Dit het genoem dat Middeleeuse mense geglo het dat die aarde plat is. Alhoewel daar Middeleeuse skoliere was wat die aarde as die middelpunt van die heelal verklaar het, het die meerderheid mense nie getwyfel oor die vorm van die aarde nie. Die bekende 13de eeuse boek, Aan die Sfeer van die Wêreld bewys juis dat hullle bewus was van die aarde se vorm.

Die armer bevolking kon nie noodwendig lees nie, maar geletterdheid het stadig maar seker gegroei gedurende die Middeleeue met die stigting van kloosters en universiteite, en daarom was antieke kennis ook nie heeltemal verlore nie.

Mense in die Middeleeue het graag gebad, al het dit meer moeite geverg as vandag. Dorpe het gewoonlik publieke badhuise gehad en as jy ryk genoeg was, het jy jou eie houtbad gehad. Hul seep was gewoonlik van dierevet, as en vars gegeurde kruie gemaak.

Hul dieet was ook nie heeltemaal so barbaars as wat mens dalk dink nie. Vuil kos is uitgegooi en daar was metodes om kos te preserveer deur byvoorbeeld sout vir vleise te gebruik. Speserye is algemeen gebruik, maar was dikwels duurder as vleis. As iemand dus speserye kon koop, sou hulle ook vars vleis kon bekostig. 

Die onsekerheid oor feit en fiksie van die Middeleeuse tye is deels te wyte aan die gebrek aan gedokumenteerde skrifte van dié tyd. Ons is eintlik in die donkerte oor die “donker eeue”.

Ons moet bedag wees op hoe ons die verlede interpreteer. Die Middeleeue was ’n bron van inspirasie vir klomp idees, en het op die ou einde meer fantasie as feit aangevuur.


Nienke de Vaal

Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.