Willkommen in Südafrika

Jana Burger en Erica Chen

Op 15 Januarie het ’n groep leerders van Wilhelmsgymnasium in Kassel, Duitsland, hul reis Suid-Afrika begin. Na byna ‘n hele dag se reis en ongeveer 13 198 km weg van hul tuiste, het hulle uiteindelik in Kaapstad geland. Moeg, opgewonde en angstig, arriveer ‘n klompie Duitsers as toeriste en gaste in ’n vreemde en diverse land. 

Die leerders het op 16 Januarie in Kaapstad geland waar ‘n groot groep Suid-Afrikaners met kleurvolle plakkate geduldig vir hulle gestaan en wag het. Na ‘n effense paniek oor ‘n verlore paspoort (wat gelukkig weer gevind is) het almal, saam met hulle nuwe families, die lughawe verlaat.  

Op 18 Januarie, het dinge baie vinnig interessant begin raak, want dit was die eerste dag van skool. Leerders van Wilhelmsgymnasium en ‘n groot hoeveelheid Dee-Effers was nuuskierig en opgewonde om mekaar te ontmoet en te leer ken. Die dag was relatief rustig en die Duitsers het gou uitgevind net hoeveel pret en gees hulle by DF gaan ervaar.

Gedurende die verloop van die uitruilprogram het die leerders van Wilhelmsgymnasium byna elke hoek van die Kaap en die omliggende areas besoek. 

Op 19 Januarie het hulle Kaappunt, Boulders en Diasstrand besoek. Die 24ste Januarie het hulle Waterfront toe gegaan en Robbeneiland besoek. Die 26ste Januarie het hulle minderbevoorregte kinders besoek en het lekkertjies en koekies vir hulle geneem. 

Dit is net ‘n paar voorbeelde van die opwindende aktiwiteite wat die leerders beleef het en dit sluit al die fantastiese dae wat die gasheerfamilies met hulle uitruilstudente beplan het, uit. 

Op die 27ste Januarie het almal, insluitende leerders van Stellenberg, DF besoek om vir die Duitsers te wys net hoe goed ons regtig kan sokkie.

Tydens hulle laaste week in die Kaap het hulle op die Rooibustoer gegaan en Tafelberg en die Kasteel besoek. 

Op een van hulle laaste aande het al die Duitsers en hulle gasheerfamilies deelgeneem aan ‘n Bunter Abend. Daar was ‘n toneelstuk, gedigte, sang en ‘n baie kompeterende Kahoot! en Bingo-kompetisie. En dis nog sonder die fantastiese aandete wat ons ontvang het. Dit was ‘n ware Suid-Afrikaanse aandete, wat met kerslig en beurtkrag aangebied is. 

Die Herout het met ‘n paar van die Duitsers gepraat oor hulle menings en hoe hulle Suid-Afrika ervaar het. 

Watter uitstappie of toeriste-attraksie was die opwindendste?

Anoniem: Ek het dit baie geniet om by Tafelberg op te gaan, want die uitsig was asemrowend en dit was ‘n baie unieke ervaring. 

Anoniem: Ek het gedink dat die Robbeneiland- en Waterfront-uitstappie die interessantste was. Die uitstappie na Kaappunt en Bouldersstrand was meer pret en opwindend.

Frida: Die Rooibustoer was my gunsteling.

Watter Suid-Afrikaanse kos het jy die meeste geniet?

Anoniem: Ek het baie van melktert en rooibostee gehou omdat beide goed vir die siel is. 

Anoniem: Ek is mal oor braaibroodjies en as ‘n versnapering is vye en rooibostee my gunsteling. 

Frida: Braaibroodjies en koeksisters. 

In watter aspek verskil Suid-Afrika en Duitsland die meeste?

Anoniem: Die warm klimaat, indrukwekkende natuurlewe en pragtige landskappe. 

Anoniem: Ek dink die grootste verskil is die daaglikse roetine en die feit dat ons oral heen met ‘n kar moet ry. 

Frida: Verkeer en vleis wat by elke liewe maaltyd teenwoordig is. 

Hoe sou jy ‘n skooldag by DF in drie woorde beskryf?

Anoniem: Struktuur, lekker pouses, goeie kosblikke. 

Anoniem: Chaoties, pret, abstrak.

Frida: Uniforms, fantastiese mense, kreatief. 

Wat gaan jy die meeste van Suid-Afrika mis?

Anoniem: My asemrowende uitruilstudent, wonderlike gasheerfamilie en natuurlik ook die weer, pragtige stad en die feit dat ek elke dag nuwe ervaringe kon beleef. 

Anoniem: Ek gaan my uitruilstudent en -familie mis (natuurlik), maar ook die omgewing met Tafelberg, die see, wind en son. 

Frida: Die mense. 

Wat kan nie jy nie wag om weer in Duitsland te sien nie?

Anoniem: Ek sien daarna uit om tyd saam met my familie en vriende te spandeer, sowel as om ‘n bietjie sneeu te kry. 

Anoniem: Behalwe vir my familie, vriende en hond, het ek my geboortedorp, omgewing, skool en natuurlik publieke vervoer gemis. 

Frida: Sneeu en my bed. 

Op die 1ste Februarie het die Duitsers terug lughawe toe gegaan om die Krugerwildtuin te besoek voordat hulle terugkeer Duitsland toe. Almal was baie hartseer om vir die nuwe vriende totsiens te sê, maar almal sien ten minste baie uit om weer hulle uitruilstudente te sien wanneer die Suid-Afrikaners in 2024 Kassel toe vlieg.