[Anlia Taljaard]
Die appel val nie ver van die boom af nie óf so is die oorheersende denke aangaande ons ongeërgde, oorgeërfde grysstof. Daardie 1,13 kg grillerige, glibberige en jellierige vleisagtigheid tussen ons ore. Die brein.
Dit is egter, soos onlangs bevind deur die bekende neuro-wetenskaplike, Bogdan Draganski, van die Universiteit van Lousanne in Switserland en bevestig deur Youv Assaf van Tel Aviv dat dit eerder die witstof is wat ons vinniger laat dink en onthou as die welbekende grysstof!
Die mens en sy intellektuele ontwikkeling het darem ook al verder gevorder as net die bevindinge van elke sielkundeprofessor se gunsteling Pavlov en sy uitgehongerde tóg gehoorsame honde se reaksie op die skril klank van ’n klok.
Die sielkundige Donald Herbst het in 1949 bepaal dat leer die oomblik wat twee neurone gelyktydig impulse uitskiet, plaasvind. Die konneksies (sinopsis) tussen hulle versterk en die gevolg is absolute intellek. Vir die geheue om optimaal te funksioneer, moet alle dele egter van die brein koherent ingeweef wees in mekaar – sig, emosie, klank, reuk en die kronologiese gebeure.
Dit is egter in die “bedrading” na dié witstof wat geen neurone besit nie wat Youv Assaf gesien het die geheue ‘n kardinale rol speel, soveel so dat leer 50 – 100 keer vinniger hier plaasvind.
Bogdan Draganski en sy mede-studente bevind verder dat musikante ‘n dikker area van die ouditiewe korteks vertoon as nie-musikante. Wat die bevinding baie boeiend maak, is dat die verdikking nie oorerflik is nie, maar verdik na langtermyn beoefening van musiek. Hulle het ook ‘n paar slimkop studentedokters se grysstof nadergetrek en ondersoek met van die nuutste tegnologie danksy MRI-skanderings. Die bevinding was dat al die mediese studente baie groter volumes grysstof getoon het tydens hul eksamens as voor hul eksamens.
Die gevolgtrekking is jýbepaal jou intellek! Jy is nie net die appel wat naby die voete van jou ouers geval het nie. Jy is dieper – So diep soos die IK-bepalende, biljoene styfgepakte witstof senuweebolle gekoppel aan die neurone in jou grysstof.
Probleemoplossing, debat , taal en musiek is die maestro van jou intellektuele reis! Geniet die avontuur.
Anlia Taljaard
Anlia se gunstelingvakke is geskiedenis en wiskunde.
Sk is mal oor kuns en het vir twee jaar in Australië gewoon.