[Amé Breytenbach en Mieke Verster]
Vurige vertonings en ysige storms: daar was beslis nie ‘n vervelige oomblik by DF nie! Hierdie kwartaal was ‘n mengsel van allerhande aktiwiteite en die eksamens brand om die draai. Van koue swete in Dink of Sink tot die warm note van kultuurweek, was daar iets vir elke Dee-Effer om te geniet. Laat die Herout jou help om af te koel as die kwartaal jou rondgejaag het.
Vuur en ys het hierdie kwartaal saam gesmelt om Mnr en Mej DF 2026 te skep, wat ‘n glansgeleentheid was wat jy nie wou misloop nie. Met vurige danse en kreatiewe drag kostuums wat jou yskoud gelos het, het die sweet behoorlik by die beoordeelaars se voorkoppe afgeloop om ‘n wenner te kies. Uiteindelik is Dewan Coetzee en Jessie Schoeman as Mnr en Mej DF gekroon, omdat hierdie twee nie net die beoordeelaars nie, maar die hele gehoor se harte kon wen. As jy self belangstel om volgende jaar op die loopplank te skitter, gaan lees Lisemarie van Dyk se artikel om uit te vind hoe om deel te raak van hierdie lewensveranderende geleentheid.
Acts of Random Kindness (ARK) week is iets waarna Dee-Effers elke jaar uitsien, aangesien dit vir ons ‘n geleentheid gee om ons goue (eintlik blou) harte te wys: Dit is ‘n vuur wat in ons almal brand. Hierdie week is geskep om jou goeie maniere bietjie af te stof en vir Dee-Effers te wys dat ‘n klein hoeveelheid liefde ‘n lang pad kan gaan. Om ‘n meisie se swaar tas te dra of vir jou beste maatjie ‘n donut te koop, klink dalk nie soos almal se ideal nie, maar dit is hierdie klein goedjies wat ‘n verandering in iemand se dag kon maak, en wie weet, dalk was dit juis daardie dag wat hulle dit nodig gehad het.
Nog ‘n hoogtepunt op die DF-kalender dié kwartaal was beslis Dink of Sink – al was dit net om daardie aand meneer Visser as die voorsitter te aanskou. Die middag het afgeskop met die uitdun-debatte, wat vinnig vurig geraak het, waar leerders óf vinnig op hul voete moes dink, óf ver ondertoe gesink het. Dit was ‘n groot voorreg om spanne van al die verskillende skole op ons skoolterrein te verwelkom en vir hulle te wys hoe ons dit by DF doen. Baie geluk aan al die spanne wat deelgeneem het – julle het gewys dat ons bloed regtig blou is.
Aan DF se ysige kant, het die wintersportseisoen hierdie kwartaal amptelik afgeskop, met hokkie, rugby en netbal wat elke naweek ons skoolgronde oorneem. Ons spanne is nou gefinaliseer en reg om Bellville se katjies terug te jaag huis toe tydens ons interskole teen Hoërskool Bellville in die derde kwartaal. Alhoewel sommige van ons sportspanne nou in verskillende liga’s is, beteken dit nie dat ons ons blou bloed moet wegsteek nie. So, gaan kyk jou maatjie se netbalwedstryd, gaan skree langs die hokkieveld vir daai ou wat altyd tussen periodes jou oog vang en maak seker jy doen dit alles in jou skoolklere.
Met ‘n lang kwartaal agter die rug, lê die eksamens eindelik voor en is die Dee-Effers (soos wat elke onderwyser innig hoop) besig om hulself daarvoor voor te berei. Onthou om nou daardie laaste vraag te vra waaroor jy onseker is en moenie toelaat dat die spanning jou onderkry nie. Al die harde werk van die afgelope twee kwartale sal nou gereed staan om jou te vang as jy vasval. Ons wens elke Dee-Effer alle sterkte toe ter voorbereiding van volgende maand. Ons hoop dat julle die koue seisoen met ‘n kombers en warmsjokolade tussen die boeke sal aandurf. Gaan lees gerus Bella Huisamen se artikel om nog wenke te kry oor hoe jy die eksamen kan oorwin.
Die ysige winter is alweer op ons hakke en ‘n see van serpe en truie kan in DF se gange gesien word. Alhoewel die eksamen deesdae almal se koppe vul, moet ons ook onthou om so nou en dan ‘n blaaskans te geniet. So gryp daai selfoon, gaan lê voor ‘n warm kaggel of brandende vuur en geniet die Herout.
Amé Breytenbach en Mieke Verster
Amé is ‘n graad 11-leerder wat lief is vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.
Mieke is ‘n graad 12-leerder wat ontdek het dat koffie jou beste maatjie moet word as jy matriek wil slaag. Sy het ‘n liefde vir netbal, dans, om tyd met familie te spandeer en om die Herout se spelfoute reg te maak.
