[Vasti le Roux]
Gedurende die Junie-vakansie het 21 DF-leerders saam met mnr. Serfontein en mnr. Dippenaar die lang reis aangepak na Zambië. Dit was tien dae vol avontuur, samesyn, onvergeetlike ervarings en vriende wat ons vir ewig sal hou.
By die Elpela-kampterrein het ons daagliks die oggende begin met Bybelstudie – wat vir almal iets persoonlik beteken het. Ons het elke aand om die vuur gesit en gesels oor net mooi enigiets. Sommige aande het ons mafia gespeel en sodoende het dié van ons wat bietjie stiller is ook uit ons gemaksone gekom.
Teen die tyd wat ons begin het met die harde werk, was ons alklaar soos een groot familie. Die seuns en soms ‘n paar van die meisies, het bamboes afgekap met pangas terwyl die res van ons bamboes en tafels afgeskuur het.
Ons het die skool naby die kamp besoek. Hier kon ons met die skoolhoof gesels en vir die gr. 7’s vrae vra oor hulle skoolervaring. Daarna het ons in die klasse inbeweeg en met die kinders gespeel. Hulle het vir ons die Zambië-weergawe van vroteier en hulle eie unieke speletjies geleer. Daarna is ons na oom Bas se plaas om hom te help en meer te leer oor sy werk in Zambië. En sy lobola. Ons sluit die dag af met ‘n sokkerwedstryd by die skool, wat ons nie te ver verloor het nie.
By die Ibenga-mark het ons verskeie Zambiese kosse probeer en met die mense gesels. ’n Hele paar van ons is gevra om te trou of om foto’s saam te neem. Van Ibenga af het ons gestap na oom Howard se plaas (Ubalayo) toe. Daar het ons kamp opgeslaan vir die volgende twee aande. Daardie aand het ons na die nabygeleë informele dorpies gestap en vir ‘n paar ure daar gekuier. Die groep is in twee verdeel om albei dorpies te besoek. Die een groep het medleys gesing en gesokkie, terwyl die ander koorliedjies gesing het en van hulle liedjies aangeleer het.
Die volgende oggend het ons onmiddellik weggespring met bakstene dra sodat oom Howard sy huis kon bou. Elke baksteen weeg ongeveer 10 kg – meneer Serfontein het 150 hiervan by die bult opgedra. Die aand het tannie Chong Chong vir ons vertel van haar lewe en hoe sy uit Noord-Indië besluit het om Zambië toe te reis. Die volgende oggend het ons die plaaslike kerkdiens bygewoon en daarna teruggestap na Elpela.
By die Kashiba-meer het ons ontspan na ‘n lang twee dae in die dorpie. Ons het heeldag in die son gelê en van die rotse afgespring. Die volgende dag moes ons weer aan die werk spring en die laaste bamboes gekap en geskuur. Om die aand af te sluit het ons gedeel wat die uitreik vir ons beteken het, en ‘n paar trane het gerol.
Daarna begin die lang rit tot by die Victoria-watervalle. Die rit het vinniger gegaan as wat ons verwag het. In Livingstone stop ons by die markies en van ons stap na die Hungry Lion – waarvoor hulle al uitsien van dat ons in Zambië geland het. By die blyplek het ons om die swembad ontspan en ons families gebel. Natuurlik het die Instagram-stories ook begin vloei. Die aand by die restaurant eet ons pizza – en krokodil – en kuier om die tafel soos een groot gesin. Die hoogtepunt van die aand was natuurlik toe ons die FIFA semi-finaal by die restaurant kon kyk.
Die volgende dag het ons deur die Mosi-oa-Tunya-erfenisterrein gestap. Die naam beteken “die rook wat donder”, wat verwys na die wolke wat uit die valle uitkim en die geraas wat die water maak. Hier het ons afgestap na die boiling pot en probeer om die bobbejane te vermy. Ons het geskenkies gekoop by die curio-winkels en middagete geëet. Daarna het ons oorgestap na die brug wat Zambië en Zimbabwe verbind en gekyk hoe vyf van ons vriende soos mal mense by die brug afspring.
Die laaste aand het ‘n paar van ons tot twee-uur wakker gebly en gesokkie en truth or dare gespeel in die sitkamer bo die restaurant. Daarna het ons probeer om te gaan slaap, maar die apies het ander planne gehad vir sommige van ons. Na die laat aand staan ons vroeg op om te pak. Die reis terug huis toe het begin. Ons doen almal lughawe-inkopies en beplan die Instagram-plasings.
En so eindig die Zambië-uitreik – met nuwe vriendskappe en ‘n ligte hart.
Vasti le Roux
Vasti is die grootste katliefhebber wat jy ooit sal ontmoet. Sy is mal oor lees, geskiedenis van enige aard, musiek luister, en het ʼn ongesonde obsessie met mediese dramas.
