100 jaar van ons moedertaal

[Lisemarie van Dyk & Mieke Verster]

Afrikaans het op 8 Mei amptelik 100 jaar oud  geword – tog bestaan die taal al vir langer as dit. Ons taal se geskiedenis het in die 1600’s as kontaktaal tussen die vroeë Nederlandse gemeenskap, die plaaslike Khoi-Khoi en die Maleiers wat deur die VOC na die Kaap gebring is, begin. In 1844 is die eerste Afrikaanse woordelys, Proeve van Kaapsch taaleigen, gepubliseer en in 1925 is Afrikaans amptelik as ’n taal erken.

Vandag is meer as 95% van Afrikaans se woordeskat van Nederlandse afkoms. Die oorblywende 5% bestaan onderskeidelik uit ’n mengsel van Maleis-Portugees, Frans, Duits en inheemse Afrika-tale.

Naas Zoeloe en Xhosa, is Afrikaans die derde grootste taal in Suid-Afrika – ja, selfs groter as Engels! Tóg sien ons al hoe meer mense wat Afrikaanse en Engelse woorde meng. Anglisismes kom meer gereeld as ooit tevore voor en intussen is daar baie ou vorme van Afrikaans wat verlore gaan.

Vandag het Afrikaans ontwikkel tot die enigste Wes-Germaanse taal buite Europa. Dit is ook die derde jongste amptelike Germaanse taal en die 140ste grootste taal wêreldwyd.

Ongeveer 11% van Namibiese huishoudings gebruik ook Afrikaans as eerste taal en ons taal word selfs as vak aangebied in universiteite in die VSA, België, Nederland, Pole en Rusland. Nagenoeg 24 miljoen mense wêreldwyd kan Afrikaans verstaan en praat.

Wanneer jy vir die Afrikaans-personeel by DF vra oor hulle passie vir Afrikaans, is hulle almal maar net te gretig om te antwoord. (Hulle sal selfs die spelling op jou vraelys regmaak.) Kom ons hoor wat sommige van ons Afrikaans-boffins in die skool, naamlik juffrou Buys, Jurgens, Goosen, Thiart, Fuchs en Tomlinson te sê het:

Hoekom het Juffrou besluit om Afrikaans vir kinders te gee?

Juffrou Jugens: Ek hou van lees en ek kon nie glo iemand wou vir my sakgeld betaal vir iets wat ek eintlik verniet ook sou doen nie!

Juffrou Buys: My reis met Afrikaans as vak het as onderwyseres in Bloemfontein begin. Baie aspekte rondom die onderwyssisteem het my geweldig gefrustreer en na twee jaar het ek die skool waar ek was, verlaat en by die die Universiteit van die Vrystaat begin werk. Ons as gesin het ongeveer 26 jaar gelede Bellville toe verhuis en kort daarna het my verhouding met Hoërskool DF Malan begin. Alles het toe net in plek geval. Ek was ouer, wyser en gereed om Afrikaans vir die ongelooflike leerders van DF Malan te onderrig.

Juffrou Thiart: Ek het nie Afrikaans gekies nie, Afrikaans het my gekies. My hoofvakke was Geskiedenis en Geografie, maar as beginner-onderwyser, moet jy die vak gee waarvoor die skool jou nodig het en Afrikaans het my nodig gehad. Ek gee al dertig jaar Afrikaans – dit is my passie.

Juffrou Tomlinson: Sedert ek ’n tjokker was, was ek nog altyd gefassineer met stories en die moontlikhede van taal. Skoolkinders lig ’n mens se siel en dis ’n groot voorreg om vir hulle te leer.

Wat is Juffrou se gunsteling-Afrikaanse woord?

Juffrou Goosen: Daar is te veel gunstelingwoorde! Gister was dit penarie en vandag is dit verstrooid.

Juffrou Fuchs: Luuks.

Juffrou Jurgens: Dis soos om te kies tussen jou kinders… hoe kies ek net een! Ek hou van speldekussing, gomtor, wolkekrabber, spookasem en en en.

Wat is ’n woord of frase in Afrikaans wat mense verkeerd gebruik wat Juffrou laat gril?

Juffrou Tomlinson: Waar begin ek? Ek “offer” iets vir jou, in plaas van aanbied. Ek “vat” ’n foto, pleks van neem. Die lys gaan aan.

Juffrou Buys: Mense sê soms “gebruik” wanneer hulle eintlik “verbruik” bedoel.

Juffrou Thiart: Daar is baie! Ek herhaal weer … jy gaan uitmis … jy moet in persoon daar wees.

Wat is ’n woord of frase wat Juffrou dink meer gebruik moet word?

Juffrou Thiart: Dankie, ek waardeer dit.

Juffrou Goosen: Dit is vir my sleg dat byvoeglike naamwoorde hul trefkrag al meer verloor – daardie woordeskat móét verbeter. Te veel keer is alles net “lekker”.

Juffrou Fuchs: Lukraak. Gesondheid (na ‘n nies). Welgedaan. Mooi beskrywende en interessante taal en veral beeldspraak wat self uitgedink is. En natuurlik dankie of ek is jammer.

Juffrou Jurgens: Ons gebruik te min interessante intensiewe vorms. Wat van mangelpienk, eksamenmoeg of Barbieblond?

Juffrou Tomlinson: Klopdisselboom, want dan verloop dinge reg!

Dink Juffrou die toekoms van Afrikaans is in goeie hande, en hoekom?

Juffrou Fuchs: Absoluut, solank ons Afrikaans praat, sal Afrikaans lewe. Afrikaans is nog ’n jong meisie en ek sien uit daarna om te sien hoe sy groei.

Juffrou Goosen: Die toekoms van Afrikaans by DF Malan is in goeie hande. Wanneer ek egter na Afrikaanse vermaak kyk of luister, word ek soms frustreerd of bekommerd.

Juffrou Buys: Afrikaans as taal se toekoms is in die hande van sy sprekers. Onthou, taal gee struktuur aan ons denke, bewaar ons erfenis en vorm die basis van ons kultuur. As die sprekers dit besef, is Afrikaans in goeie hande.

Ons Afrikaans-personeel se liefde vir ons moedertaal word elke dag in die klas uitgebeeld. Juffrou Buys deel hierdie kragtige gedig deur JC Steyn:

Al wat myne

is my sinne;

in sinne is alle woorde

myne

Waar ek my in kan verdiep

verborge gange oordrewe

met geheimsinnige waters deursypel

om my te verbind

met ander ryk domeine s’nne

Lisemarie van Dyk & Mieke Verster

Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Lisemarie is mal oor musiek en wiskunde. Haar beste vriend is haar skeinatboek en jy sal haar gewoonlik by die naaste klavier opspoor.