Antieke atlete kry krampies

[Isabelle Mulder]

Die graad 8’s se tema hierdie jaar is die Olimpiese Spele. Hulle het begin as armsalige krampies, maar het intussen gegroei tot volwaardige,  amptelike Dee-Effers. Ons seniorraad het weer op hulle beurt die rol van antieke Griekse atlete vertolk. Al is die graad 8-oriëntering nou iets van die verlede, beteken dit nie dat die Olimpiese Spele nie meer in ons gedagtes is nie. 

Hier volg ‘n paar interessante feite oor die Olimpiese Spele. 

Die Olimpiese Spele is gebaseer op die woord olimpiade wat ‘n tydperk van vier jaar beteken. Die doel van die Spele was om die magtigste Griekse god, Zeus te vereer. Die eerste geskrewe bewyse van die Olimpiese Spele is van 776 v.C. 

Die oorspronklike sportsoort van die Olimpiese Spele was slegs die spadion wat later stadion en toe stadium in Engels geword het. ‘n Stadion was die woord vir ‘n agste van ‘n Romeinse myl – die lengte van die baan waarop die atlete by die Spele gehardloop het. 

Later het die hoeveelheid items by die Olimpiese Spele meer divers geraak en ander sportsoorte soos diskus, spiesgooi en boksgevegte (asook ander sprong- en resiesgebaseerde items) het by die stadion aangesluit. Atlete het ook gespesialiseer in sekere items en het selfs hul eie afrigters gehad om voor te berei vir die Spele. 

Die Olimpiese Spele was tog nie net ‘n atletiekbyeenkoms nie. Die Grieke van daardie tyd het geglo dat musiek mense help met koördinasie en beweging.  Dit het nie net vir sport gewerk nie, maar ook vir dans. Dus het professionele musikante ook heeldag by die Spele opgetree. 

Daar was geen medaljes by die Olimpiese Spele nie, maar atlete het ander pryse ontvang. Die woord atletiek is afkomstig van die Griekse woord athlon wat prys beteken. Die olyfkranse wat atlete by die Olimpiese Spele ontvang het, was net so waardevol en merkwaardig soos monetêre pryse van ander antieke Griekse atletiekkompetisies. 

Vier spesifieke antieke atletiekkompetisies in Griekeland het hulle eie unieke pryse gehad. Wenners van die Panatheense Spele sou olyfolie ontvang, by Isthmia ‘n dennekrans, ‘n selderykrans by Nemea en ‘n bronsskild by Argos. 

‘n Groot hoeveelheid van die antieke Griekse atletiekkompetisies was gehou om sekere Griekse gode te eer. Die Olimpiese Spele was vir Zeus – die koning van die gode – en die Argos Spele was om sy vrou, Hera te eer. Die Panatheense Spele was natuurlik in Athene gehou om die stad se beskermgodin, Athena te eer. 

Ongelukkig het die Olimpiese Spele amptelik in 393 n.C. tot ‘n einde gekom nadat die Romeinse keiser, Theodosius dit verban het omdat hy dit as ‘n heidense spele gesien het. Die Olimpiese Spele het nog vir ‘n paar jaar tot in die vyfde eeu plaasgevind in Olympia en het in 1896 teruggekeer na sy volle glorie. Die moderne Olimpiese Spele se openingseremonie het toe in die Panatheniese Stadion in Athene plaasgevind. Die stadium is spesiaal vir die geleentheid gerestoreer. 

Daar is dus baie meer agter die legendariese Olimpiese Spele, as net Griekse atlete en hulle krampies.


Isabelle Mulder

Isabelle is versot op tale. Sy geniet dit om boeke te lees en films te kyk. Deesdae borduur sy gereeld en leer dus haar kreatiewe kant só ken.