Zambië: die avontuur van ’n leeftyd

[Isabel Roux]

Wat maak jy wanneer jy saam met 15 mede-Dee-Effers (en mnr. Dippenaar) in die middel van Zambië land sonder wifi of selfoonopvangs? Dis ’n snaakse storie.

Toe ons die oggend van 15 Junie om 4:30 op Kaapstad Internasionale Lughawe kom, het ek vinnig besef dat hierdie groep mense sou maak dat ek net so bietjie minder na my ouers verlang. 

Twee vlugte en ’n rowwe motorrit later het ons by Elpela-kamp aangekom. Vir die volgende nege dae was dit ons huis. Ons was baie hartlik verwelkom deur oom Etienne, tannie Sumi en hulle kinders, Kari en Keon. Ons het vinnig besef dat ons vir die volgende week in ’n emmer moes stort en tussen die goggas lewe. 

Ons is van die Honesty Shop, waar ons peuselhappies kon kry en eers aan die einde van die uitreik terugbetaal, vertel. Nietemin het ons baie tyd daar spandeer. Ons mag nie in die dam geswem het nie omdat daar ’n krokodil, Jonathan (deur laasjaar se groep gedoop) woon. 

Ons is aan Rebekka, ’n meisie wat in Zambië bly en saam met ons sou kamp, bekendgestel. Nadat ons tente opgeslaan het, het ons verjaarsdagkoek geëet en vir Liné gesing. Daardie aand het ons baie lekker geslaap, onbewus van die harde werk wat op ons gewag het.

Die volgende dag was rustig. Die tema van die uitreik was Light Over Darkness en ons het bybelstudie daaroor gedoen. Na ’n lekker middagslapie was ons skielik wakker gemaak deur die geluid van ’n fluitjie. 

Ons het ’n spanbou-aktiwiteit gehad. Twee spanne, die Swart Mambas en die Sout van die Aarde, is geskep en moes krete uitwerk. Gelukkig was Leah deel van die Swart Mambas en Siegfried deel van die Sout van die Aarde. Dit was darem nie te moeilik nie. Nadat ons die krete opgevoer het, en Leah haar beat boxing-vaardighede ten toon gestel het, was dit tyd vir die aktiwiteit. Vier mense in elke span is geblinddoek terwyl ons hulle om ’n twee kilometer lang pad moes lei. Ons moes boonop baie swaar dra aan ’n lang houtpaal en ’n emmer vol water. Die Sout van die Aarde het gewen, maar dit was steeds vet pret. 

Die dag daarna is ons aan ons grootste vyand bekendgestel – bakstene. Die bakstene was swaar en het in ons hande gebreek. Dis veilig om te sê dat dié aandra van die bakstene een van die grootste uitdagings, wat ek nog ooit teëgekom het, was. 

Die volgende paar dae was net ’n waas van bybelstudie, bakstene, peuselhappies en kampvure. Ons moes een aand ons eie kos vir ’n kookkompetisie maak. Ons uitdaging was om vir die eerste paar minute stil te bly terwyl die spanlede boonop almal aan ’n tou vasgemaak is. Ethan het geleer dat dit baie moeilik is om stil te bly wanneer miere jou voete byt en jou hele span wil uitbars van die lag. 

Tieners moenie in beheer van aandete wees nie, want amper alles gaan rou wees – ’n les wat almal geleer het. Siegfried se span het op die ou einde gewen bloot omdat al hulle kos gaar was, volgens mnr. Dippenaar. Ethan se span het die prys vir die braafste span gekry. Mnr. Dippenaar het ’n klip in die water naby hulle ingegooi en almal het weggeskiet omdat hulle gedink het dat dit die krokodil was. Isabella se span het die prys vir die lekkerste dis – gaar aartappels in ’n roomsous – gekry.

’n Paar dae daarna het ons na Ibenga, die naaste dorpie, gegaan. Leana, ’n derde jaar mediese student wat by die skool werk vir die vakansie, het ook saamgegaan. Ons het elkeen ZK20 gekry en ons moes vir onsself middagete koop. Met daardie geld het elkeen ’n samoesa, 500 milliliter Pepsi en roomys gekoop. Ons het ook Kafulafuta-dam besoek en gekyk of ons die krokodil kon sien. 

Die volgende dag was rof. Ons het die skool wat daar naby was se markdag besoek sowel as netbal en sokker teen hulle gespeel. Toe ons terug by Elpela kom, moes ons tente afslaan en reggemaak om na ’n nabygeleë dorpie toe te stap. Dit is waar ons vir die volgende twee aande gebly het. 

Na ’n uur en ’n half se stap het ons daar aangekom en ons tente opgeslaan. Ons sou sewe-uur eet, maar ons het ’n waardevolle les geleer – in Afrika bestaan tyd nie. Aandete was eers agtuur. Daar het ons ’n nuwe vyand onttek – nshima. Dit is soos mieliepap, maar baie dikker en met minder geur. Ons het dit vir elke maaltyd, behalwe ontbyt, saam met kool en ’n vorm van vleis geëet. 

Die volgende dag het ons ’n huis, vir die persoon by wie ons gebly het se ma, gebou. Daardie aand het ons sokker saam met die mense, wat daar naby gewoon het, gespeel. Die ervaring was beslis interessant en ons almal het nog ’n groot les geleer – moenie alleen stap nie. 

Toe ons teruggekom het, het ons weer baie laat geëet en dit was weereens, nshima. Die volgende oggend het ons met ons mooiste rompe kerk toe gegaan en ’n tradisionele kerkdiens ervaar. Daar was baie gesing en gepreek en dit was ’n ongelooflike ervaring. Nadat ons nog nshima geëet het, was dit uiteindelik tyd om terug te gaan Elpela toe. Hierdie keer het ons slegs ’n uur gestap, dis hoe desperaat ons vir ’n Coke was. Daardie aand was baie pret. Almal het net hulle eie ding gedoen en ons het ’n liedjie geskryf wat in almal se koppe vasgesit het.

Die dag daarna het ons Kashiba-meer besoek. Daar was die helderste water wat ek nog ooit gesien het. Almal het daar by ’n baie hoë krans afgespring. Ons moes ook toe ongelukkig vir Rebekka groet, omdat sy nie saam met ons na die Victoria-waterval toe sou gaan nie. 

Toe ons terugkom, het almal reggemaak vir die 18 uur busrit wat voorlê. Daardie aand halfelf het ons vertrek. Ons is twee keer deur die polisie gestop en gevra vir omkoopgeld, maar 18 ure later het ons dit na die Victoria-waterval gemaak. 

Almal het uitgesien na die waterval en na ’n lekker ontbyt was ons reg om te gaan. Leah en Siegfried het besluit om liewer onder die waterval te gaan roei. Ons het hulle eers weer twee-uur gesien. Nadat ons die pragtige waterval gesien het, was dit tyd vir Isabella om te gaan bungee jump. Sy het dit gedoen sonder om flou te val. 

Dit was tyd vir koop. Daar is nie vasgestelde pryse nie; jy onderhandel met die handelaars vir watter prys jy voor kans sien en dan gooi jy ’n paar batterye en penne in vir ’n beter aanbod. Sebastian was totaal in sy element en het vir almal gehelp om ’n beter kopie te kry. Na die lang dag het almal lang stortsessies gevat en baie geëet.

Dit was tyd om huis toe te gaan. Almal was baie hartseer om Zambië te verlaat, maar ons was terselfdertyd opgewonde om ons families weer te sien. Toe ons die aand halfelf in Kaapstad land, het almal baie treurig gegroet en na hul families gehardloop.

Dié avontuur was die beste ervaring van my lewe. Dit het gevoel asof die wêreld net vir twee weke stil gestaan het aangesien ons geen kontak met enigiemand gehad het nie. Ek is baie dankbaar vir almal wat saam met my deur hierdie rowwe ervaring gegaan het. Ek beveel dit aan vir enigiemand wat net hulle kop wil stilmaak.

Isabel Roux

Isabel is die steoreotipiese tienermeisie. Sy spandeer graag tyd in haar kamer om te luister na Phoebe Bridgers en Taylor Swift en boeke te lees. Sy streef ook daarna om eendag ‘n crazy cat lady te wees.