Terugkeer

[Cara Booysen]

Ek weet nie wat my besiel het om dit te doen nie. Ek weet wel dat ek nie kan terugkeer nie en dat ek my belofte verbreek het.

Karien was al vroeg in my lewe ‘n splinter in my voet wat ek nie kon uitkry nie. Sy het my nooit sleg behandel nie. Sy het my net nooit verstaan nie.

Terwyl ek op hierdie oop pad tussen wye bosvelde en berge van die Klein Karoo ry, sien ek ‘n enkele huisie in die verte. So verwaarloos en verbrokkel soos wat ek in haar huis gevoel het. Altyd “Wat het jy nodig?” en “Hoe voel jy?” Wat sy nie kon verstaan nie, is dat daardie vrae meer seer as troos gekweek het. 

My antwoord was altyd kortaf: “Niks.”

Die dag wat sy nie meer in my lewe hoef te gewees het nie en ek getrek het stad toe, was die beste dag van my lewe. Ek het so haastig alles in my kartonbokse gesmyt en gery dat ek haar nie eens gegroet het nie. In my haas het ek ook nie besef dat ek haar joernaal ingepak het nie.

Dit is vandag Sondag en ek het daardie einste boks met haar joernaal in uiteindelik uitgepak. Min het ek geweet dat die joernaal nooit aan haar behoort het nie, maar aan my.

“My liefste Alicia. Dit mag dalk nog jare wees voordat jy hierdie boek ontdek, maar ek bid dat jy sal. Ons kom nooit oor die weg nie; dit is heel moontlik my skuld. Ek bid elke aand oor jou en vra die Here hoe ek jou kan liefhê, en weet dat ek probeer. Ek wil jou wys daar is iemand wat lief is vir jou en vir jou omgee. Baie. Vergewe my.” 

Ek het myself belowe dat ek sou nooit teruggaan om jou te sien nie. Tog ry ek deur die strate van Calitzdorp op soek na jou. 

Ek parkeer by my bestemming en klim doelgerig uit my kar en soek jou tussen die rye en rye stene wat bak in die Karoo-son. Voorheen het ek niks gevoel of nodig gehad nie. Maar hier voor jou graf sak ek neer van spyt en het ek nodig om jou te noem wat ek nooit voorheen kon nie:

“Dit was nie jou skuld nie, Mamma. Jammer dat ek so ‘n moeilike kind was.”

Cara Booysen