[Cara Booysen]
Elke persoon in hierdie kerk vind hulle vrede in lofsang en aanbidding. Ek doen dit nie. Ek vind myne diep, diep onder in my whiskeyglas.
Dit sal moet wag tot later. My ma het my nie geleer om ‘n kerkdiens te mis nie. Al is sy nie meer hier nie, en ek dit nie meer geniet nie, kom ek steeds elke Sondag.
“Julle mag julle sitplekke inneem,“ bulder die dominee. “Vandag het ons ‘n spesiale erediens vir die nuutste lid van ons gemeente. Ek vra dat baba Hannes en sy gesin vorentoe kom vir sy doop.”
Iets in my begin roer. Ek kyk op van my hande na die gesin en die dominee by die doopvont. Almal pik ‘n traan terwyl baba Hannes gedoop word, maar in my kop skree ek vir God: “Hoekom het U toegelaat dat my ouers in die ongeluk doodgegaan het? Hoekom het U my weggegooi? Waar is U nou?!“
‘n Stem fluister: “Ek is by jou vanaf die dag wat jy daar voor by die doopvont was.”
* * *
My lyf hang swaar teen my veiligheidsgordel en my skedel voel asof dit wil oopskeur. Voor my oë kantel die pad. Hoekom kantel die pad? Ma en Pa hang slap voor in hulle sitplekke. Ek veg teen my gordel en my trane terwyl ek die sirene hoor skree agter my…
* * *
Ma en Pa kyk na my met liefde in hulle oë vanuit hulle troufoto. My blik flits tussen hulle, Ma se Bybel en my whiskey. ‘n Gefrustreerde sug ruk deur my lyf. Ek staan op ‘n kruispad waar ek kan kies om te vergeet van die seer of om dit vierkansig in die oë te staar. Ek wil nou regtig nie weer onthou hoe die seer voel nie.
My hand strek na die whiskey. Ek het baie duur betaal vir hierdie drank; ek gaan dit nie weggooi nie.
“Ek het baie duur betaal vir jou vryheid,” fluister ‘n ou bekende Stem. “Ek gaan jou nie weggooi nie, my dogter.”
My knieë tref die grond. Ek voel nie die seer daarvan nie. Ek voel nie enige seer nie, want dit vloei alles uit my, uit oor my wange. Dit gee pad tot herinneringe van al die aande waar Ma en Pa saam met my Bybel gelees het; stories vertel het van Israel se vryheid en hulle verbond met God. Ek onthou die verhaal van die doop en foto‘s van my eie doop. Die aand voor die ongeluk het Ma dit weer vir my gewys.
“Die doop is ‘n teken dat jy nou God se kind is, en daarmee jou vryheid verklaar. Ek en jou pa het die verantwoordelikheid gehad om ‘ja’ te antwoord op jou doop. Wat is jou antwoord, my kind?”
“Ja,” fluister ek vir my ouers se foto.
“My antwoord is ja, Here.” My asem het lanklaas so lig gevoel…
* * *
Elke persoon in hierdie kerk vind hulle vrede in lofsang en aanbidding. Ek doen dit nou ook. Ek sal van nou af elke dag op die verantwoordelikheid van my vryheid antwoord.
Cara Booysen
Cara is ‘n matriekleerder wat dit af en toe geniet om te skryf. Sy geniet dit om tyd te spandeer in die skool se tuine en leef haarself uit op kultuur- en leierskapgebiede asook in haar eie wêreld.
