Die stilte tussen dinge

[Micke de Jager]

Daar is ’n stilte wat nie leeg is nie. Dit leef nie in afwesigheid nie, maar in die ruimtes tussen klanke, bewegings en woorde.

Dit is die stilte tussen dinge: tussen ’n asem en ’n sug, tussen ’n vraag en ’n antwoord, tussen wat gesê is en wat nooit eers genoem is nie. 

In ’n kamer vol mense kan dit skielik intree. Die gelag val plat, ’n glas tik liggies teen ’n tafel en vir ’n oomblik hang alles roerloos. Daardie stilte praat harder as enige stem. Dit ruik na koue koffie en klink soos ’n horlosie wat te hard tik. In daardie oomblik begin die stilte asemhaal. 

Die stilte tussen dinge is ’n waarnemer. Sy sit tussen twee mense wat mekaar liefhet, maar nie meer weet hoe om dit te sê nie. Sy staan tussen ’n groet en ’n totsiens, en fluister herinneringe wat nooit uitgespreek word nie. Woorde lê op die tong, swaar soos klippe in water. Is dit vrees of hoop wat ons stilmaak? 

Soms is die stilte sag. Dit vou jou toe soos ’n kombers wanneer die wêreld te moeilik word. Ander kere is dit skerp, ’n mespunt tussen wat was en wat nooit weer sal wees nie. Die wind buite raas, maar binne-in jou is dit stil: ’n stilte vol gedagtes wat soos skaduwees skuur. Jy hoor jouself dink, hoor jou hart klop, hoor dinge wat geraas altyd verdring. 

Daar is ook stilte in die natuur, tussen die vlerkslae van ’n voël en die sagte val van ’n blaar. Dit hang in die lug soos ’n onsigbare draad, en as jy mooi luister, voel dit amper soos ’n gebed. Die wêreld hou asem op en vir ’n sekonde is alles presies soos wat dit moet wees. 

Selfs in musiek bestaan stilte. Daardie klein pouse tussen note is waar emosie insluip. Stilte maak ruimte vir betekenis, soos wit spasie in ’n gedig wat die woorde laat leef. 

Die stilte dra ’n motief van wagtyd. Dit is die wagtyd voor ’n besluit, voor ’n breek, voor ’n belydenis. Alles beweeg vorentoe, maar stadig, soos water wat deur sand sif. Daar is progressie in die stilte: eers ongemak, dan besef, dan aanvaarding. En skielik, sonder waarskuwing, kom die wending: iemand praat, iemand draai weg, iemand verstaan. 

Wanneer die stilte uiteindelik breek, is niks meer dieselfde nie. Want stilte is nooit net niks nie. Dit is die plek waar betekenis gevorm word, waar woorde hulle krag kry. 

Die stilte tussen dinge is nie die einde van klank nie, maar die begin van die waarheid. 

Micke de Jager

Micke is ’n kunsliefhebber met ’n sagte hart vir haar twee worshondjies. Sy geniet dit om te teken, na musiek te luister of ’n goeie storie of fliek te ervaar.