Oranjerivier – ‘n avontuur om te onthou!

[Emma Schneeberger]

Onvoorspelbaar, onvergeetlik en definitief ongewoon – ’n paar woorde wat die graad 9’s se wilde avontuur op die Oranjerivier kan beskryf. ’n Spul graad 9’s, gewapen met kano’s en roeispane, is beslis ’n belewenis om oor te vertel. 

Op Woensdag 25 Maart het die leerders om 23:30 vertrek, vergesel deur juffrou van Hulst, mnr. Mells en mnr. Rossouw. Die opwinding was van korte duur en die bus het vinnig stilgeraak. Party leerders het hulself op die bus se vloer gemaklik gemaak. Die rit was kort-kort onderbreek deur stoppe by kitskosplekke en R2–badkamers.

Nadat die groep dit uiteindelik verby die Namibiese grens gemaak het, was Amanzi Trails se basiskamp uiteindelik in sig. Daar was ‘n geskarrel soos almal bote gekies het en bagasie in emmers en koelbokse probeer ingepas het. Nadat die toergidse voorgestel is, het almal na die water beweeg – gereed vir die avontuur wat voorlê.

Die dae op die rivier was gevul met aksie. Van rustige strome na vinnige stroomversnellings, soos die Sambok en Rollercoaster, was elke oomblik opwindend. Tussenin was daar tyd vir visvang, kaartspeletjies en selfs bergklim. ‘n Grootskaalse klipspring-kompetisie is ook geloods, met die wenner wat vyf pakkies two minute noodles ontvang het.

Slaapreëlings was eenvoudig, maar nie baie luuks nie. Leerders het op grondseile in hul slaapsakke geslaap, terwyl ’n paar sommer opblaasmatrasse ingepak het. Dit het egter niemand gekeer om om die vuur te sit en stories te deel nie. 

Op die tweede laaste aand was daar ‘n onvergeetlike talentkompetisie. Die toergidse het gedans en musiek gemaak, en die leerders het in bewondering geluister hoe hulle die Namibiese volkslied sing. Daarna was daar nog verskeie talente gedeel, insluitend die sing van DF se skoollied.

Om die finale dag op die Oranjerivier af te sluit, het die leerders vroeg weggespring en binne ‘n paar uur die eindbestemming bereik. Almal was uitgeput en gebrand, maar die gevoel van prestasie was groot. Daarna het ’n uur lange busrit hulle terug na die basiskamp geneem, waar ‘n broodnodige stort gewag het. Uiteindelik skoon, het die leerders vroeg gaan slaap, aangesien hulle om 06:00 die volgende oggend weer moes vertrek vir die rit huis toe.

Die rit terug Bellville toe was heelwat rustiger. Moeg, maar tevrede het leerders gesels en musiek gemaak, terwyl almal stilweg uitgesien het na hul eie beddens — sonder goggas en vreemde naggeluide.

Hierdie avontuur was propvol nuwe ervarings en herinneringe – dit sal beslis nie binnekort vergeet word nie.  

Boodskappe van Oranjerivier-leerders:

Albert Smit: Die Oranjerivier was ’n wonderlike ervaring. Al die dinge wat ons kon sien, die natuur wat ons kon beleef en die vriendskappe wat ons gebou het was baie spesiaal. Ek is baie dankbaar dat ek hierdie geleentheid gehad het.

Amelia Smit: Ek het dit vreeslik geniet. Dit was ’n ongelooflike avontuur waar ek so baie nuwe dinge beleef en geleer het. As ek ooit weer ‘n geleentheid kry om dit te doen, sal ek dit dadelik aangryp. Die toer is beslis nie vir sissies nie.

Noah de Wit: Die toer was regtig ‘n unieke ervaring. Wat regtig vir my ‘n hoogtepunt was, was hoeveel nuwe mense ek leer ken het. Ek het gelukkig nooit omgeval nie, maar het lekker gelag vir die mense wat het. Dit was ‘n wonderlike ervaring, maar as ek ooit weer gaan, gaan ek net seker maak ek bring sonblok in plaas van self-tanner.

Emma Schneeberger

Emma is ‘n gr. 9-leerder wat mal is oor swem, lees en dans. Sy spandeer graag tyd saam met familie en vriende.