Agter die skerms: neurochirurgie met oud-Dee-Effer

[Annika van Zyl]

“Wherever the art of medicine is loved, there is also a love of humanity.” –  Hippokrates  

Met hierdie woorde beklemtoon Hippokrates die belangrikheid van medemenslikheid binne die mediese veld. Hierdie aanslag was alomteenwoordig tydens my besoek aan Tygerberg Hospitaal, waar ek die voorreg gehad het om met professor Ian Vlok, hoof van  Neurochirurgie, te gesels. Wat hierdie ervaring nog meer besonder gemaak het, is die  feit dat professor Vlok ook ’n oudleerling van DF is. Dit het die besoek nie net leersaam nie, maar ook persoonlik inspirerend, gemaak.  

Ek kan met sekerheid sê dat my besoek alle verwagtinge oortref het. Professor Vlok het verskeie prosedures en tegnieke wat binne neurochirurgie toegepas word, gedetailleerd verduidelik en die gevorderde toerusting prakties gedemonstreer en toeganklik gemaak.  

Die tegnologiese middels wat in die laboratorium gebruik word is wêreldklas met  Tygerberg Hospitaal se Neurochirigie-vaardigheidslaboratorium in die BMR-gebou wat  onder die topvyf instansies ter wêreld beskou word. Professor Vlok en sy span se kundigheid spreek boekdele. Dit, tesame met uitstekende samewerking tussen ’n  verskeidenheid mediese spesialiste, verseker die beste sorg vir pasiënte.  

Binne die laboratorium word boerpampoene gebruik om pasiënte te simuleer. Ja, jy het reg gehoor, boerpampoene. Professor Vlok het verduidelik dat hierdie pampoene ’n  waardevolle oefenmetode bied wat chirurge help om hul vaardighede te verfyn. Pampoene simuleer die tekstuur van menslike weefsel, wat ’n veilige manier bied om  operasies met minimale risiko te “oefen” voordat dit op werklike pasiënte toegepas  word.  

Professor Vlok en sy span het uit hul pad gegaan om my as leerling bloot te stel aan ’n verskeidenheid elemente binne die veld. Die besoek het my ’n dieper insig gegee in die vereistes van ’n loopbaan in neurochirurgie. ’n Sterk detailoriëntasie,  deursettingsvermoë, fisiese stamina en goeie interpersoonlike vaardighede is essensieel binne hierdie beroep waar operasies tot 12 ure kan duur. Elke aksie moet met deeglikheid  uitgevoer word. My uitdaging was om die blare van die blommetjie met ’n pinset (‘n klein tangetjie) onder ’n mikroskoop te verwyder – stabiele hande en geduld was die sleutel!

Ten slotte, die besoek aan professor Vlok by Tygerberg Hospitaal het my begrip van neurochirurgie en die mediese professie verder verryk. Hippokrates se woorde herinner ons dat ware medisyne nie net oor tegniese vaardighede en kennis gaan nie, maar ook oor die empatie en deernis wat aan pasiënte betoon word. Hierdie artikel word dus met groot dank aan professor Vlok en sy span wat hierdie aanslag daagliks uitleef, opgedra.

Annika van Zyl

Annika  is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies  en ‘n boeiende speurverhaal. Tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.