Animasie vir almal

[Emily Byleveld]

K-Pop Demon Hunters is ‘n oorspronklike animasiefliek en kombineer die glans van K-pop (Koreaanse popmusiek) met die spanning tussen goed en sleg.
Die bekende K-pop-meisiegroep, Huntrix, se doel is om die wêreld te beskerm teen die magte van die bose, maar hulle doen dit met hul stemme – alles terwyl die rookskerm van die perfekte meisiegroep gehandhaaf word.


Die mengsel van kleur, musiek, klank en animasie, is nie net perfek gedoen nie, maar vloei saam om die storie akkuraat en kreatief te skets.
‘n Aspek wat deesdae dikwels in animasieflieks gemis word, is die individuele progressie en identiteit van elke karakter, insluitend die bykarakters. Binne elke sekonde van elke afsonderlike toneel leer ons iets nuuts en opwindends oor elke karakter, wat van toepassing is op die plot en perfek saamsmelt met die algehele boodskap van die storie.


Die besonderhede van hierdie fliek is absoluut verstommend, veral wat die direkte verwysing na die werklike Koreaanse mitologie betref. Deur Jeoseung Saja (bekend as die grim reaper) word die Koreaanse kultuur verteenwoordig en gevier. Selfs die tier, wat geïnspireer is deur die Koreaanse volkskuns genaamd minhwa wat die bose geeste moet afweer, is ‘n gedetailleerde en doelbewuste verwysing na ware Koreaanse kultuur en mitologie.


Hierdie fliek was so ‘n treffer by gehore dat dit binne twee maande meer as 130 miljoen kykers getrek het. Die liedjie “Golden” deur die meisiegroep was so gewild dat dit die eerste meisiegroepliedjie geword het wat die eerste plek op die Billboard Hot 100 behaal het sedert “Destiny’s Child” in 2001. Nog agt van die fliek se liedjies het die Billboard Hot 100 gehaal. Die fliek se album het die tweede plek behaal en is die hoogste bruto-animasiefilmklankbaan van 2025.


K-pop Demon Hunters is beslis genotvol en geskik vir alle ouderdomsgroepe, aangesien daar om elke hoek en draai lesse te leer is in hierdie musikale animasie.

Emily Byleveld

Emily se gunstelingvakke is Engels en dramtiese kunste. Sy is baie lief vir lees en piesangbrood.