Belewenisse met België: Dee-Effers se ervaringe

[Sandrine Steyn]

“Wie had dat ooit durven drome… heb je geen zin om samen een uitwisseling te organiseren tussen onze school en een school uit Zuid-Afrika? Deze organisatie wou de banden tussen Vlaanderen en Zuid-Afrika aanhalen en keek oa. uit naar scholen die interesse toonden voor een uitwisselingsproject.”

‘n Warboel van gebeure, ervaringe, emosies en mense vlieg te vinning verby en verdwyn eensklaps in die verte. Bewyse van die gebeure bly egter agter in die vorm van foto’s, aandenkings en persoonlike herinneringe.

Twaalf graad 11 DF-leerders het onlangs die besonderse voorreg gehad om vir die 22ste jaar aan ‘n kulturele uitruilprogram met die Gulden Sporen College in Kortrijk, België deel te neem. Na afloop van die gebeure in die Maart-skoolvakansie is daar talle verhale om te deel en oomblikke om na terug te verlang.

Die herinneringe strek al terug na vroeg Februarie van hierdie jaar. Die betrokke Dee-Effers het elkeen ‘n Belgiese leerder vir ongeveer ‘n week gehuisves. Gou is noue vriendskapsbande gesmee. Met die Belge se vertrek uit Kaapstad, was daar groot opgewondenheid oor die twee groepe se  herontmoeting – in België. Gou sou almal mekaar weer sien en sou elke Dee-Effer weer hul Belg se huishouding en dag-tot-dag lewe kon ervaar.

Eers het die DF-toergroep Parys vir vier dae verken, voordat hulle by hul Belgiese gasfamilies aangesluit het. Margo du Toit vertel in ‘n onderhoud dat die tyd in Parys een van haar beste herinneringe is. “Ons het ‘n afdag gehad en kon die stad verken volgens ons belangstellings.” Merkwaardige, geskiedkundige plekke soos die Chateau de Fontainebleau is ook besoek en die Suid-Afrikaners het soveel moontlik gesien en gedoen in Parys.

Daniel Wiese vertel met ‘n hart vol verlange oor sy hoogtepunt in Parys: “Die laaste aand het Jean by die toergroep aangesluit en almal het vir die eerste keer as die volledige toergroep saam geëet. Ons het die beste hamburgers geniet by ‘n klein, oulike straatkafee.”  Daarna het die groep die Eiffel-toring besoek en sy skitterende liggies gaan bewonder.

Die toergroep het in Parys baie nou bande gevorm. Dit was amper `n skrikwekkende gedagte dat almal met hul aankoms in België appart sou moes bly.

In Kortrjik aangekom, is die groep na die skool, Gulden Sporen College vervoer waar hulle met die Belgiese leerlinge herenig is. Elke lid van die DF-toergroep kan getuig van ongelooflike gasvryheid waarmee hulle by hul Belgiese gasfamilies verwelkom is. “Hulle het my so tuis laat voel,” beaam Caylin Parker. “‘n Mandjie met sepies en peuselhappies het in my kamer gewag.”

Die skool in Kortrijk sou dien as ontmoetingspunt soggens, sowel as smiddae, na die dag se gebeure en uitstappies. Verskeie Belgiese stede is oor die volgende 11 dae besoek, waarvan geskiedkundige toere en blootstelling aan smaaklike kossoorte deel was.

Philip Mouton vertel van die verskillende disse waaraan hy tydens sy België-reis blootgestel is. Aartappels word in baie disse gebruik in die vorm van frietjes en croquettes, terwyl proteïene aansienlik duurder en skaars is. Sjokolades en gebakte lekkernye vorm ook ‘n groot deel van die Belgiese dieet. “Ek verkies definitief Suid-Afrikaanse kos. Ek voel daar is ‘n groter verskeidenheid disse met meer interessante geure.” Jean Coetzee merk ook op dat die Belge se sjokolade-gebasseerde ontbyte verskil van die algemene Suid-Afrikaanse gewoontes om sjokolade eerder as nagereg te geniet.

Brussels, Antwerpen en Ghent is van die Belgiese stede wat besoek is. Die meerderheid Dee-Effers het egter hul harte verloor op ‘n klein, romantiese stad, genaamd Brugge. Kanale vleg tussen ou geboue deur waaroor menigte brûe gebou is. Swane is sigbaar op die oewers van die kanale en die Middeleeuse invloed skep ‘n ouwêreldse gevoel. Anders as in Suid-Afrika, is die huise in België baie meer beknop en teenaan mekaar, getuig Jean. In terme van vervoer is dit ook veilig om fiets te ry – die paaie is so ingerig dat fietsryers ‘n aparte baan het en dit is dus ‘n algemene vorm van vervoer.

Anabelle du Plesis het ‘n unieke ervaring beleef: Haar verjaarsdag is tydens die besoek in België gevier. “Ek was aan die begin bietjie angstig om te dink dat ek so ver van die huis af gaan wees vir my verjaarsdag.”  Sy vertel wel dat haar gemoed omgeswaai het met die verloop van die toer – Sy het besef dat sy haar verjaarsdag saam met ‘n wonderlike groep vriende sou deurbring. “My gasfamilie het my die oggend wakker gesing, ontbyt gemaak en vir my ‘n geskenk, wat ek baie waardeer het, gegee.” Sy kon ook, deur middel van Facetime, met haar geliefdes tuis kommunikeer.

Die einde van die merkwaardige ervaring, alhoewel onvermydelik, het `n treurige atmosfeer tot gevolg gehad. Nina van Wyk meen tog dat die lengte van die 16-dag reis, perfek was: “Ons het genoeg tyd gehad om alles te sien wat ons wou sien en om alles te doen wat ons wou doen.” Vervolgens sê sy ook dat sy haar familie genoeg begin mis het om te wou terugkeer huis toe, maar nie soveel dat dit haar reis beïnvloed het nie.

Die twee onderwysers wat die toergroep vergesel het, was mev. Weisse en mev. M. Badenhorst. Mev. Weisse het vooraf al die belangrikste reëlings behartig. Sy het geen moeite ontsien om te verseker dat die leerders goed voorbereid vir die toer was nie. Dit was ‘n groot voorreg, getuig die betrokke leerders, om die spesiale herinneringe met beide onderwysers te kon deel. Mev. Badenhorst het gou deel gevorm van die grappige geselsies en lighartigheid van die tienertoergroep.

Is hierdie uitruilprogram dus aan te beveel? Anlia Taljaard antwoord met beslistheid: “Eenhonderdduisend keer, ja!” Sy beaam ook dat hierdie belewenis baie uniek is. Om twee weke lank saam met skoolvriende te toer en om as lid van ‘n vreemde gesin in ‘n vreemde land te bly – als op ‘n relatief jong ouderdom – sal nie sommer vergeet word nie.

Skatte van vriendskapsbande oor kulture heen, lewenservaring en wêreldkennis is in oorvloed bymekaargemaak. Die uitruilprogram het ‘n blywende en diep indruk op elke Dee-Effer wat deel was van die uitruilprogram, gelaat.


Sandrine Steyn

Sandrine is ‘n passievolle danser en dol oor diere. Sy vind aanklank by vakke soos musiek en wiskunde en geniet die vermaak van ‘n boeiende boek. Vanjaar is sy in graad 11 en neem graag deel aan Afrikaanse debat. Kom gesels (of argumenteer) gerus met haar!