[Noa du Plessis]
Net ‘n week voor die eerstekwartaalvakansie het twaalf graad 11-meisies en twee onderwysers op ‘n onvergeetlike avontuur na België vertrek. Oor die loop van sewentien dae het ons ‘n reis vol avonture, chaos en verwondering beleef. Daar is talle nuwe vriendskappe gemaak, wat beslis die toets van tyd sal deurstaan. Beleef gerus die toer deur die oë van ‘n paar van ons toerlede:
Hoe het dit gevoel om saam met ‘n groep meisies oorsee te toer?
“Dit was amazing! Dit sou beslis ‘n hele ander vibe gewees het as ons seuns bygehad het. Almal was heeltyd so vriendelik en liefdevol teenoor mekaar en ons het sommer ook ‘n paar goed bespreek wat seuns sal laat gril het tot in hulle toonnaels. Die motto van die hele toer was: Girls trip!” – Lisemarie van Dyk
“Dit was ongelooflik gemaklik. Dit het soos een groot ondersteunende familie van 13 gevoel, omdat ons almal dag vir dag deur soortgelyke goed gegaan het.” – Emma Keating
‘’Dit was ongelooflik! Een van die spesiaalste dele van die hele toer was hoe na aan mekaar die groep van twaalf meisies sowel as ons twee juffrouens geraak het. Ons het nie net Europa verken nie, maar ook mekaar op ’n hele nuwe manier leer ken. In Parys was daar een aand wat ek nooit sal vergeet nie. Ons groepie meisies het saam aandete geniet onder die sprankelende Eiffeltoring. Daardie oomblik was so toweragtig en vol goue herinneringe. Wat dit nóg beter gemaak het, was hoe ons as ’n groep saam met die Belgiese uitruilstudente uitstappies onderneem het. Almal het ’n ervaring gehad wat niemand anders regtig sal verstaan nie – ’n band wat ons altyd sal deel.” – Isabella Theron
Wat was jou gunstelingtuimeltrein by Plopseland?
“Sonder twyfel The Ride to Happiness van Tomorrowland! Ek het vyf keer daarop gery – en dit nadat ek vroeër bang was vir tuimeltreine! Dis so ’n adrenaliengevulde ervaring en dit het my behoorlik uit my gemaksone gedwing. Ek verlang nou nog daarna.” – Isabella Theron
Ons het die geleentheid gehad om met die leerlinge van Guldenspooren College te gesels en saam met hulle die Kortjik-mark te besoek, waar ons veels te veel eierkoeke geëet het. Daarna kon ons vir die leerders meer oor Suid-Afrika en ons hoërskool, DF Malan, vertel in die vorm van mondelinge.
Hoe was hulle skool anders as ons s’n?
“Die hele vibe is anders. Hulle ken mekaar nie so goed soos wat ons in DF mekaar ken nie en ek dink dis omdat alle buitemuurse aktiwiteite in klubs gedoen word en nie in die skool self nie en hulle het geen skoolgees nie.” – Carla Erasmus
“Hulle het elke dag gewone klere gedra en hulle het nie streng voorkomsreëls by die skool nie.” – Emma Keating
“Ek was mal oor hul kosstelsel. Hulle het nie net ’n snoepie soos ons nie, daar is behoorlike, warm etes tydens pouse. Dis iets wat ek wens ons ook gehad het. En natuurlik die feit dat hulle nie skooluniforms dra nie! Ek het daarvan gehou hoe elkeen hulself deur hul kleredrag kon uitdruk.” – Isabella Theron
Wat was die grootste kultuurskok wat julle ervaar het?
“Dat hulle elke liewe oggend Nutella en brood eet.” – Emma Keatin
“Beslis die klein getal gelowiges en Christene daar. Hulle het sulke mooi kerke, maar min mense gaan kerk toe, lees bybel of bid voor hulle eet.” – Lisemarie van Dyk
“Dat hulle dink whatsapp is vir ou mense en hulle gebruik snapchat om met mekaar te praat.” – Carla Erasmus
Hoe het jy die onafhanklikheid van België en Parys ervaar?
“Verskriklik lekker. Dit het soos ‘n blik in die toekoms gevoel. Asof ons volwassenes was wat ons eie besluit kon neem in die wonderlike stad. Die onafhanklikheid in Parys was eers moeilik om aan te pak met al die toeriste en vreemde mense, maar ons het gou die metro leer gebruik en soos regte locals in Parys getoer.” – Emma Keating
“Ag, dit was beslis ‘n ander gevoel as die res van my tyd in België. Ek en ‘n vriendin het een dag op ons eie die metro gery Arc de Triomphe toe en ek het so volwasse gevoel. Dit was wel baie vreesaanjaend, aangesien ek die heeltyd bang was om beroof te word.” – Lisemarie van Dyk
“Verseker in Parys! Ons het die hele naweek op ons eie rondgewandel en die stad verken; twaalf tienermeisies op hul eie missie! Om op die metro’s te klim, self winkels en restaurante te kies en onder die Eiffeltoring te sit en gesels, was vryheid in sy suiwerste vorm. Dit was ‘n voorsmakie van hoe dit voel om ‘n jong volwassene te wees! Parys was lekker en iets wat ek vir altyd sal onthou.” – Isabella Theron
Hoe was dit om by ‘n vreemde familie in ‘n vreemde land te bly?
“Dit was vreesaanjaend, maar baie opwindend! Party van ons families het ons vet gevoer en ander het ons op vinnige uitstappies na ander lande geneem. Party mense het beter oor die weg gekom as ander, maar die algehele ruimte was gemaklik. Ek het baie vinnig lief vir my gasgesin geraak en goeie verhoudings met my huismamma, huispappa, boet en suster gebou. My huispa het my selfs elke aand toegelaat om ‘n kers aan te steek vir Ruben. Die grootste struikelblok, wat natuurlik die taal was, het ook na ‘n week of twee vergete in die stof gelê.” – Lisemarie van Dyk
“Dit was nie so vreemd en ongemaklik soos ek gedink het dit sou wees nie. Dit was eintlik baie lekker om by ‘n ander gesin te bly en te sien hoe hulle lewens werk.” – Carla Erasmus
“Aan die begin was ek effens bang, maar op daardie manier wat jou ook terselfdertyd opgewonde laat voel. Gelukkig het ons Belgiese uitruilleerders eers ’n maand voor ons vertrek na hulle toe by ons kom bly, so ek kon my Belg beter leer ken in my eie huis en tuisland. Dit het baie gehelp om my gemakliker te laat voel. Toe ek uiteindelik in België aankom, het sy gesin my dadelik tuis laat voel. Hulle was ongelooflik gasvry en het soveel moeite gedoen. Dit het gevoel asof ek deel van hul gesin was.” – Isbella Theron
Sal jy graag weer België toe wil gaan?
“100%! Dit voel vir my asof ek nou die stad van Kortrijk soos die palm van my hand ken. Ek sal beslis wil terugkeer wanneer ek ouer is. Ek en my Belg het selfs al beplan wat ons gaan doen as ek en sy weer paaie kruis.” – Lisemarie van Dyk
“JA, VAT MY NOU” – Carla Erasmus
“Een honderd persent. Ek wil baie graag my gasgesin weer sien en tyd saam met hulle deurbring.” – Emma Keating
Hierdie toer het nie net vir ons baie geleer oor die wêreld nie, maar het vir ons baie oor onsself geleer. Ons het geleer dat, alhoewel mense anders leef, is ons almal maar mense wat oor dieselfde goed bekommerd is en van dieselfde goed hou. Dit was beslis ‘n toer van ‘n leeftyd en ons het herinneringe gemaak wat beslis die toets van tyd sal deurstaan.
Noa du Plessis
Noa se skryfstyl was nog altyd ‘n bietjie uniek: meer informeel as die gewone. Haar leuse is: Wees uniek! Niemand wat normaal is, het al die wêreld verander nie!