Dirk Hagen
Op 4 April 2023, is die wit en blou vlag gehys van nog ‘n Nordiese reus in die winterson by die tuiste van die Weste se beste in Brussels.
Finland is behoorlik welkom geheet deur die sing van die Finse volkslied en die NATO-gesang in die teenwoordigheid van president Niinistö self, minister van buitelandse sake, meneer Haavisto, minister van verdediging, meneer Kaikkonen, die ministers van buitelandse sake van alle NATO-bondgenote en leiers van nog ‘n Nordiese nasie, Swede.
NATO se sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, het hierdie gebeurtenis as “histories” beskryf. Dit word beskou as ‘n politieke besluit van kardinale belang, nie nét vir die uitbreiding van die NATO-alliansie nie, maar ook vir Nordiese sekuriteit. “Ek is baie trots om Finland as ‘n volwaardige lid van ons alliansie te verwelkom en ek sien uit daarna om Swede so gou moontlik te verwelkom,” het hy gesê terwyl hy president Niinistö bedank het vir sy leierskap.
Sommige leiers wat deel van die internasionale politieke klimaat vorm, het met ‘n suur smaak in die mond toegekyk hoe hierdie alliansie gevorm word. Baie van Finland se ouer garde het die Rooi Gevaar steeds vars in hulle geestesoog. Tydens die sogenaamde Winteroorlog, het die klein landjie Finland die magtige, reuse Sowjet-weermag aangedurf. Dit is hierdie wisselvallige diplomatieke verhoudinge en wedersydse wantroue in mekaar wat die aangrensende nasies tot uiterstes gedryf het en wat vandag nog merkbaar is.
As gevolg van die Rusland-Oekraïne oorlog wat tans in volle swang woed, het die Finne hul beleid van neutralitiet en onpartydigheid heroorweeg. NATO staan in sommige opsigte bekend as ‘n anti-Russiese alliansie wat tydens die Koue Oorlog geskep is om die Sowjetunie se groeiende invloed op militêre, politieke en diplomatieke vlak internasionaal in sy spore te stop. ‘n Voorbeeld is die Warskou-verdrag wat ‘n kollektiewe verdedigingsverdrag was tussen die Sowjetunie en sewe ander Sowjet-satellietstate in Sentraal- en Oos-Europa, wat deur NATO teengewerk is.
Toepaslik, is die sekretaris-generaal ook van mening dat Finland se aansluiting by NATO die wêreld wys dat president Vladimir Poetin hom nie goed van sy taak gekwyt het om die uitbreiding van NATO verder oos te stuit nie. “In plaas van minder NATO, het hy die teenoorgestelde bereik; meer NATO en ons deur bly stewig oop,” het hy beaam.
President Poetin het in Junie 2022 sy opinie gelug oor die moontlikheid dat Finland en Swede gaan aansluit by NATO. Die Russiese president het die moontlike lidmaatskap van Finland en Swede beskryf as totaal anders as Oekraïne se potensiële lidmaatskap. Hy voer aan dat Oekraïne anti-Russies geraak het en verwys na die konflik oor grondgebied tussen Oekraïne en Rusland. Hierdie wrywing en vyandige gedrag bestaan, volgens hom, nie tussen Rusland en die Nordiese lande nie. President Poetin het Finland egter gewaarsku oor die gevare verbonde aan die alliansie. “Hulle moet net duidelik besef dat daar voorheen geen bedreigings was nie. As militêre magte en infrastruktuur daar ontplooi word, sal ons dieselfde bedreigings skep vir die gebiede waaruit bedreigings vir ons geskep word,” het hy beklemtoon.
Alhoewel die Internasionale Kriminele Hof ‘n arrestasiebevel uitgevaardig het vir president Poetin, blyk dit asof dit hom min skeel op sy troon in sy moederland. President Poetin is steeds vas oortuig dat die NATO-alliansie slegs Oekraïne gebruik vir sy eie geheime agenda. “Die feit dat hulle nog altyd oor hul eksklusiwiteit gepraat het en in die wêreldgemeenskap die slagspreuk ingebring het dat ‘wie nie met ons is nie, is teen ons,’ is alles ‘n manifestasie van dieselfde beleid. Dit is niks nuut vir ons nie,” het die president opgemerk oor NATO se uitbreiding nader aan die Russiese grens.
Kort nadat Finland sy lidmaatskap bekend gemaak het, het Rusland sy militêre magte op sy westelike en noordwestelike grense versterk. Oekraïne het, in kontras hiermee, Finland se besluit geprys, met president Volodymyr Zelenskyy wat die burgers van Finland gelukgewens het.
Alle oë rus nou op dié twee oer-oue vyande wat weereens die wêreld hul asems laat ophou. Sal president Poetin aksie neem en sy gunstelingrooi atoombom-knoppie uiteindelik druk? Of het NATO onverwagte geraamtes en ekstra atoombomme in die kas? So waar as padda manel dra, die Finne is verseker van ‘n plek in die geskiedenisboeke!