Biscoff – sonder rede of verskoning

[Vasti le Roux]

Ek hou van biscoff. Ek hou baie van biscoff.

Hoekom? Die enigste rede wat ek aan kan dink is “want ek doen.” Dit is egter raar dat dit genoeg van ‘n rede is vir diegene met geen begrip van die spesiale tipe genot wat biscoff vir my bring nie. Hoekom moet ‘n mens meer van ‘n rede gee as bloot “want ek doen” as daar eenvoudig nie meer redes as dit is nie?

Soms is dit juis die gebrek aan ‘n rede wat die ervaring soveel meer aangenaam maak. Die toppunt van genot is om iets sonder ‘n rede te kan geniet. Om iets te doen net omdat dit vir jou vreugde bring en vir geen ander rede nie.

Sodra jy tot hierdie heuglike besef kom, gaan ‘n nuwe wêreld vir jou oop. ‘n Wonderwêreld van nuwe ervarings, nuwe kos, nuwe mense en nuwe stokperdjies. Dit is alles daar om te geniet, noudat jy nie meer opsoek na ‘n rede is nie. Noudat jy nie jouself hoef te verduidelik nie. Die oomblik wat jy ophou om ‘n rede vir alles te soek, word dit skielik maklik om vreugde en genot te vind.

Mense is vreemd en onvoorspelbaar. Wanneer ‘n mens die druk op jouself sit om ‘n rede of ‘n regverdiging te heg aan alles wat jy doen, vergeet jy om die lewe te geniet vir wat dit is. Hoe minder van die lewe jy probeer verstaan, uitredeneer of verduidelik, hoe meer kan jy dit net geniet.

Om ‘n vriendin aan te haal: “Ons is gemaak om die lewe te geniet, nie te verstaan nie.” Die twee gaan selde hand aan hand. Soms moet ‘n mens vrede maak met die feit dat jy dit wat jy geniet, nie gaan verstaan nie. Maar selfs al verstaan jy dit nie en selfs al kan jy geen rede of regverdiging voorhou nie, kan jy dit geniet. Net geniet. En niemand hoef dit te verstaan nie. Nie eens jyself nie.

Ek hou baie van biscoff, want ek doen.

Vasti le Roux

Vasti is die grootste katliefhebber wat jy ooit sal ontmoet. Sy is mal oor lees, geskiedenis van enige aard, musiek luister, en het ʼn ongesonde obsessie met mediese dramas.