Creatures & Creators: drie dae van verf en visse

[Amé Breytenbach]

Een winterswerkswinkel, twee studente van DF Malan, drie kreatiewe dae en ontelbare baie visse. Dit kan mos net ’n wenkombinasie wees – een met ’n kleurvolle uitkoms. 

Gedurende die wintervakansie het ek en nog ’n ontwerpleerder in graad 10 die voorreg gehad om deel te wees van ’n nuwe inisiatief van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD). Ons het hierdie werkswinkel by die akwarium bygewoon saam met nog ontwerp- en mariene wetenskappe-leerdes van verskillende skole. 

In samewerking met die Two Oceans Aquarium en die Cape Town Creative Academy (CTCA) het die werkswinkel ons meer geleer oor mekaar se belangstellings, die geheime van die see en ons vermoë om saam in ’n groep te werk. Die doel van die hele oefening? Ontwerp ’n poskaart oor ’n spesifieke vis wat hom in die tenks van die akwarium bevind.

Op die eerste dag was almal se opgewondenheid aansteeklik – ons het by die akwarium ontmoet in ’n geallokeerde spasie buite die openbare oog. Elke leerder het ’n sak ontvang met al die kunselemente wat hulle deur die loop van die drie dae sou benodig. Na ’n vinnige muffin en koffie, het ons in ’n lokaal vergader waar ons in spanne ingedeel is – een ontwerpleerder, een mariene wetenskappe-leerder en een visuele kommunikasie-ontwerpstudent van CTCA.

Na ’n rondte van ysbrekers het ons ’n begeleide toer deur die akwarium ontvang, met ’n entoesiastiese toergids wat ons meer van elke spesie en die goeie werk van die akwarium geleer het. 

Daardie middag het elke span gehoor watter unieke vis hul projek oor moet handel. Ons het aan die werk gespring met die eerste deel van die projek – om al die feite agter op die poskaart in te vul. Die spreekwoordelike borrel in die tenk: Dit moet so geskryf wees dat ’n 8-10-jarige dit sal verstaan. Ons groep is in twee verdeel, met elke groep wat in ’n afgesonderde vertrek gaan werk het waar ons ’n uitsig van dié visse kon hê. Alhoewel dit ’n asemrowende prentjie is, raak ’n mens vinnig seesiek as jy aanhoudend vir die bewegende kelpwoud sit en kyk. 

Op die tweede dag het ons vroeg begin met die ontwerpgedeelte van die projek, weer in ons aparte lokale. Waterverf, papier, penne en pastelle is goed benut terwyl ons verskillende teksture en kleure moes skep. Ons was baie dankbaar vir die wyse woorde van ’n CTCA-dosent wat ons verfkwaste so ’n bietjie minder laat bewe het. 

Toe ons werk vir die dag klaar was, kon ons self toergids speel en die akwarium op ons eie verder verken.

Op dag drie het ons almal by CTCA se kampus in Kaapstad ontmoet vir die finale dag. Die CTCA-student van elke groep het ons kunswerke van die vorige dag op ’n rekenaar aanmekaar gesit. Die groot vraag: Hoe baie verstaan jy nou regtig van Photoshop?

Na ’n lang dag van ontwerp, uitvee en herontwerp, was dit eindelik tyd vir die prysuitdeling. Esther van der Merwe het DF Malan trots verteenwoordig met haar groep wat ’n algehele tweede plek behaal het.

Dit was ’n groot voorreg om deel te kon wees van die eerste Creatures & Creators-werkswinkel. Ek dink almal wat hierdie geleentheid kon bywoon, hoop dat dit kan voortgaan vir toekomstige graad 10’s.

Amé Breytenbach

Amé is lief vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.