DF-atlete skitter op SA-kampioenskappe

[Daniël du Plessis]

Na afloop van die 2025-MTBS het die skool se atletiekseisoen tot ‘n einde begin kom. Daar is egter ‘n paar atlete wat besluit het dat die MTBS nie die laaste hekkie gaan wees nie. Eben Smith, Jennifer van Schalkwyk en Juan le Roux was so gelukkig om deur te dring na die SA-skolekampioenskappe.

Eben het aan die 400 meter-hekkies en 110 meter-hekkies deelgeneem by die kampioenskappe. Hy het ‘n indrukwekkende eerste plek in die 400 meter en tweede plek in die 110 meter verower.

Jennifer het aan die 90 meter-hekkies deelgeneem en het ‘n eerste plek met ‘n tyd van 13,4 sekondes behaal.

Juan le Roux het aan die diskus en gewigstoot deelgeneem. Juan het in die gewigstoot ‘n derde plek behaal met ‘n afstand van 17,28 meter. Beeldmateriaal hiervan is beskikbaar op Hoërskool DF Malan se Instagramblad.

Wat vereis dit van jou indien jy daaraan dink om met hierdie atlete te kompeteer? Vir Eben begin ‘n seisoen se voorbereiding reeds die winter voor die seisoen. Tydens hierdie tydperk word meer fokus geplaas op kragwerk en fiksheid: herhaaldelike 800 en 1 000 meter afstande, trappe en bulte uithardloop en pliometriese oefeninge. Nader aan die seisoen is dit tyd vir spoed en tegniek. Korter afstande word geprioritiseer en hoër intensiteit word vereis. Hou net in gedagte, daar word steeds geen gebruik gemaak van hekkies in hierdie tyd nie. Consistency is key,”  sê Eben. “Al kan jy nie elke dag jou alles gee nie, solank jy net iets doen wat jou in die regte rigting stoot.” Eben vertel ook dat dieet en herstel net so belangrik soos oefening self is, sodat jy die volgende dag weer jou alles kan gee. ‘n Gesonde bord kos binne die eerste uur na ‘n oefening, magnesiuminname en strek is uiters belangrik. Met hierdie inligting kan jy, die leser, begin voorberei om met Eben te kompeteer. Begin egter so vroeg moontlik, want Eben het reeds ‘n sewe jaar voorsprong met hekkiesondervinding.

DF se ander hekkiesatleet, Jennifer, se roetine lyk soos volg: “Ek het drie keer per week by die skool geoefen en nog probeer tyd maak om op ‘n Saterdag ook te oefen. Ek het my oefeninge so gereël dat ek twee dae voor my deelname nie oefen nie, maar in daardie tyd kan rus.” Sy sê verder dat sy die oggend van elke deelname ‘n ligte ontbyt eet. Dit bestaan slegs uit ‘n paar eiers.

Vir Juan is plofkrag en gooitegniek heel bo-aan die lys vir voorbereiding en oefening. “Baie kragwerk in terme van gimnasiumwerk en baie gooi in die sirkel en verbeter aan tegniek,” vertel Juan. Voorbereiding verskil baie van persoon tot persoon. Dit kan enigiets van ‘n paar maande wees vir een persoon tot jare se voorbereiding vir ‘n ander. Vir sy dieet fokus Juan om meer proteïene in te neem saam met ‘n gebalanseerde dieet.

Met al hierdie verskillende diëte, voorbereidingstegnieke en kwalifikasies is daar wel ‘n groot ooreenkoms tussen hierdie atlete. Dit is die belangrikheid van rus en vir jou lyf tyd gee om te herstel.

Baie geluk aan hierdie drie atletieksterre met hul prestasies en sterkte met die voorbereiding vir volgende jaar se kampioenskappe.

Daniël du Plessis

Daniël is ‘n entoesiastiese sportman wat homself besig hou met vier sportsoorte deur die jaar, maar hy het ook ‘n groot passie vir skaatsplankry.