[Christina Bradley]
As jy nou dink dat KFC die enigste plek is waar ‘n mens hoendervleis kan kry, is jy ongelukkig verkeerd. Jy dink seker ek is skoon van my kop af, maar hierdie plek is beslis besonders. Waar anders sal jy jou talente kan uitleef én deel wees van ‘n groot gesin vol gees en liefde?
As jy nog nie geraai het nie, praat ek nou van DF se koor.
Ja, daar is mense wat dink koor is vir nerds, maar ons praat nou van ‘n koor van 150 leerders. ‘n Koor waar jy nie net sing nie, maar ‘n koor waar mense jou familie word.
DF-koor het al talle dinge hierdie jaar bereik: by Eisteddfods gekompeteer, by kinderhuise gaan kuier en by aftree-oorde opgetree. Ons het selfs in die Kango-grotte gesing, in George vir Anna by Outeniqua Spar gaan kuier en nog vele, vele meer.
As ‘n koor, het ons so baie gedoen en so baie nuwe vriende gemaak wat ‘n mens nooit sou verwag nie. Ons het so baie herinneringe gemaak wat ‘n mens altyd sal onthou. Ons limiete word getoets en ons talente word uitgeleef. En dit alles terwyl ons dit gate uit geniet!
Nou is die vraag net: Wil jy ook jouself kom toets by die koor en wil jy deel wees van ons groter as groot familie? Kom vir ‘n oudisie en sluit aan! Wie weet? Dalk het jy ‘n versteekte talent.
Christina Bradley
Christina is in graad 8 en beslis ‘n sosiale persoon wat nie sommer jou naam gaan vergeet nie. Sy is mal oor musiek en kan nie daarsonder leef nie. Sy gee ook alles op die hokkieveld en sal enige tyd ‘n goeie boek vir jou kan aanbeveel.
