DF-koor op toer

[Hanler van Eck]

As daar ooit ’n kwartaal was waarin die DF-koorlede se stemme, uithouvermoë en koffieverslawing getoets is, is dit beslis kwartaal drie. Vanaf groot verhoogligte tot ure in ‘n bus, het die koor aan verskeie opwindende geleenthede deelgeneem en hul passie vir sang deurlopend gewys.

’n Hoogtepunt op die koorkalender was definitief die Afrikaans is Groot-konsert wat op 20 September by die DHL-stadion plaasgevind het. Met die viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar, is DF en verskeie ander skole genooi om hul stemme vir die massakoor te leen. Dit was ongelooflik om aan só ’n groot produksie deel te neem en om ons liefde vir die taal te wys. Laurika Rauch het ook die gehoor, een laaste keer, op ’n verhoog betower met haar legendariese musiek wat die aand selfs nog meer spesiaal gemaak het.

Alhoewel dit nie oorspronlik beplan is nie, het ons koor ook besluit om ’n spontane Suid-Kaap-toer aan te pak. Met interhuis agter die rug en stemme wat hees en rou geskree is, het die busse Vrydagoggend vertrek. Ons eerste paar optredes was vir verskeie aftree-oorde, naamlik Eureka Ouetehuis, Buh-Rein Estate en Hooggelegen Ouetehuis in Worcester. Selfs oud-DF-leerders het hul ondersteuning vir hul bloubloed alma mater kom wys. Die busse het vroegmiddag by Ashton stilgehou en die koor is deur die wonderlike Zolani Youth Choir ingewag. Ons het die middag saam met die groep spandeer en ’n indrukwekkende werkswinkel beleef wat daarop gemik is om twee verskillende kulture te verenig – ons het dele van hulle liedjies aangeleer wat nou nog in ons koppe swem. Ons laaste optrede vir die dag was dalk die opwindendste – Meneer Jade bring sy koor huis toe! Vir die eerste keer het Heidelberg sy koor hoor sing en dit was beslis ’n groot aand vir almal. Ons is baie lief vir jou, Mister Sir!

Saterdag het die koor die Môreson Jeugsorgsentrum besoek. Die koorlede het met kinders van alle ouderdomme gespeel, gesels en natuurlik vir hulle ons Afrika-liedjies se dansbewegings aangeleer. Die bus se tweede stop vir die dag was by Redberry Farm, net op George se grens, waar ons die kronkelende doolhof aangedurf het en ‘n smullekker middagete geeët het. Na ’n vinnige optrede, het ons ook die besonderse pienk-gekleurde sonsondergang tussen die branders van Victoriabaai geniet.

Teen Sondag het die einde van die toer aangebreek. Ons het met moeë stemme die personeel by die hotel gegroet en na die historiese Kango Grotte in Oudtshoorn vertrek. Deur die loop van ons Kango-avontuur het ons die akoestiek benut en ’n paar van ons liedjies gesing. Dit was baie spesiaal, veral vir die matrieks wat vir die afgelope vier jaar toegewyd aan die koor is.
Na ‘n lang busrit het die koor veilig by die skool aangekom, met die maan wat hoog in die lug is.

Kwartaal drie was beslis een vol hoogtepunte vir DF-koor. Dit was ’n kwartaal wat bewys het dat die koor gees en uithouvermoë het. Die kwartaal kom tot ‘n einde met nuwe herinneringe en talle nuwe stories om oor te lag.

Verruim gerus jou kennis oor ons koor of gaan luister na die besonderse Zolani Youth Choir by die volgende skakels:

Tygerburger:
https://tygerburger.co.za/kyk-van-skoolbanke-na-aftreeoord-df-koor-roer-hartsnare/
Zolani Youth Choir:
https://www.instagram.com/zolani_youth_choir?utm_source=ig_web_button_share_sheet&igsh=ZDNlZDc0MzIxNw==

Hanler van Eck

Hanler is beslis ‘n liefhebber van die literêre wêreld. As jy hom nie op die astro of by kooroefeninge opspoor nie, sal hy waarskynlik in die kombuis wees, besig om geflopte nageregte te maak.