Die DF-resep: onvergeetlike hoërskooljare

[Lianel Lotriet]

Daar is skole… en dan is daar DF Malan – die plek waar tradisie, energie en jeug saamvloei in ‘n resep wat leerders vorm en herinneringe kweek wat ’n leeftyd hou. In die hart van die Wes-Kaap lê hierdie ikoniese skool, bekend vir sy indrukwekkende balans tussen akademie, kultuur, sport en sosiale betrokkenheid. Maar wat maak DF Malan só besonders?

Is dit die vriendelike onderwysers met hul passie vir onderrig? Die legendes van die Koffieblik? Of dalk die kenmerkende DF-groet wat jy nie maklik sal vergeet nie?

Om hierdie vraag te beantwoord, het ek met ‘n reis begin deur die gange en grasperke van DF op soek na die hartklop van hierdie verskynsel. En soos elke goeie avontuur, het my reis begin by die hart van die skool: die graad 12’s.

Emma Steffen, hoofmeisie van 2025, beskryf dit perfek:

“DF is ’n tuiste vir elkeen wat die blou-bloed familie binnetree. Die skool bied ’n enorme verskeidenheid geleenthede wat vir elke leerder die kans gee om ’n plek te vind waar hulle uitblink.”

Met die leiding van die matrieks, het ek ’n goue resep saamgestel vir toekomstige Dee-effers – ’n stap-vir-stap gids tot ’n tien uit tien hoёrskoolervaring.

Bestanddeel 1: ’n Warm ontvangs

Alles begin op ’n sonskyndag in Januarie. Jy stap onseker, maar opgewonde, deur die hekke van DF Malan. En daar wag hulle – jou nuwe “mamma” en “pappa”, die seniorraad. Hulle help jou om jou voete te vind en maak seker jy voel welkom in jou nuwe huis. Gou leer jy: Jy is deel van ’n familie – die DF-familie.

Bestanddeel 2: Spring in en leef voluit

Jy gaan nie net jou plek vind in die klaskamer nie. Jy gaan dit vind op die verhoog, op die sportveld, in die koor, eko-klub, orkes, RVL of selfs by die Herout. Hier ontdek jy jou talente, jou stem, jou vriende en jou passie. Tydsbestuur word ’n vaardigheid, want jy leer hoe om ‘n balans tussen prestasie en pret te handhaaf – ’n les wat jou vir die lewe voorberei.

Bestanddeel 3: Ontwikkel jou eie stem

By DF Malan gaan dit nie net oor punte en prestasies nie. Dit gaan oor jou ontwikkeling as mens. Hier leer jy om ’n leier te wees – of dit nou as kaptein van ’n span is of as iemand wat stil-stil ander inspireer. Jy leer om selfvertroue te hê, om jou unieke stem te gebruik, en om met trots in jouself te glo. Dit is hier waar jy leer watter waardes jou definieer.

Bestanddeel 4: Maak herinneringe

Geen hoërskoolloopbaan is volledig sonder daardie spesiale oomblikke nie. Neem deel aan dae soos Donut Donderdag, Valentynsdag, DF-kultuurweke en MTBS. Lag hard, huil saam en leef elke oomblik met oorgawe. Jy gaan eendag verlang na die dae van skoolklokke, besige gange en koue oggende op die pawiljoen. 

DF Malan is nie net ’n skool nie – dis ’n ervaring, ’n reis, ’n resep van groei en saamwees. 

Die geheim? ’n Bietjie durf, ’n skeut geesdrif en hope betrokkenheid. En as jy eers daardie eerste happie gevat het, sal jy weet – jy was deel van iets besonders.

Lianel Lotriet

Vir Lianel is die geliefdes in haar lewe baie belangrik. Jy sal haar altyd op ‘n netbalbaan vind. Sy is ‘n aanhanger van romantiese flieks en geniet dit om kitaar te speel.