Die eerste tree na leierskap

[Christina Bradley]

Hierdie kamp was my eerste tree op pad na leierskap. My eerste tree op die reis van ’n eerste keer VRL-lid wees. 

Toe ek deur my graad gekies is om hul leier te wees, het ek geweet ek moet al die kanse neem om hul verwagtinge te vervul.

Coach Meshack Lefifi en sy fasiliteerders het die energie na die kamp gebring – van grappies tot danspassies by die sokkie. Hulle het vir my ’n klomp lewenslesse geleer. 

Die eerste aand by die kamp was ’n warrelwind van ysbrekers en aktiwiteite om mekaar beter te leer ken. Van balle in die lug opgooi tot ’n toring uit malvalekkers en tandestokkies bou. Toe ek later die aand uitgeput op my bed gaan lê het, kon ek natuurlik nie slaap nie. Hoe kon ek? Die gepratery van opgewonde meisies kan ’n mens nie uitblok nie. 

Die volgende oggend het vroeg begin. Die kampprogram wag vir niemand nie; nie eers vir moeë kampeerders nie. Die spreker het met ons gepraat oor probleme en hoe ons kan aksie neem om dit op te los. Hy het ons vertel oor sy foute en hoe ons daaruit kan leer. 

Na pouse was die oomblik waarvoor almal gewag het: die Amazing Race. Ons is in gemengde groepe verdeel en het 90 minute gekry om saam al die aktiwiteite klaar te maak. Ons moes werk saam met mense wat ons nie geken het nie, maar ons het nog steeds goed saamgewerk. Al het my span derde laaste gekom, het ons geweet dat ons net ons beste gegee het. 

Die sokkie was een van die hoogtepunte van die kamp, want die laaste dag was vol treurige gesigte van dié wat nie wou huis toe gaan nie. Die fasiliteerders het saam met ons gedans en gesing tot diep in die aand sodat almal kon beter voel.

Toe ek die kamp verlaat het met ’n glimlag op my gesig en ’n paar goeie lesse in my sak, was ek baie dankbaar dat ek daardie eerste tree geneem het.

Christina Bradley

Christina is beslis ‘n sosiale persoon wat nie sommer jou naam gaan vergeet nie. Sy is mal oor musiek en kan nie daarsonder leef nie.