[Isabella Huisamen]
Die jaarlikse gr. 10-leierskapkamp was ʼn groot sukses. Ons harte is vol na hierdie wonderlike geleentheid, wat nie moontlik sou wees sonder juffrou Solomon en haar span nie. Dit is duidelik dat leierskap een van haar grootste passies is.
Vrydag was almal baie opgewonde, maar het nog glad nie geweet watter groot impak hierdie kamp op ons sou maak en hoe baie ons dit sou geniet nie. Die opgewondenheid in die atmosfeer op pad Mizpah toe was aansteeklik. Ons is die hele naweek lank geseën met warm weer: toe ons dus daar aankom, het die son ons velle lekker geprikkel. Ons is in groepe gedeel wat distrikte genoem is, volgens die Hunger Games-tema.
Toe het ons ʼn vinnige opleidingsessie gehad waar juffrou Solomon ons meer vertel het oor ons leierskapstyle. Daarna het ons aan die uitdagings deelgeneem. In die uitdagings kon jy punte verwerf wat omgeskakel word in niki-bucks, wat daardie aand by ons veiling gebruik sou word.
Vrydagaand kon almal hulle innerlike sjef ontdek toe ons ʼn pot, maalvleis en pasta gekry het. As jy jou niki-bucks reg spandeer het, het jy dalk nog ʼn pastasous gehad om ook by te sit. Ons het toe die kans gehad om ‘n groot plakkaat oor onsself in te vul, sodat ons mekaar almal beter kon leer ken.
Ons het dit teen die muur opgeplak, saam met ʼn papier waarop ons iets geskryf het wat ons belowe om op die kamp te doen, byvoorbeeld om te belowe om nie op te gee tydens aktiwiteite nie. Ons het die res van die aand gehad om daaraan te werk voordat ons kamer toe is.
Saterdagoggend het ons ʼn smaaklike ontbyt gehad: Franse roosterbrood met sjokoladesous, stroop en karamelsous. Daarna het ons in ons groepe ‘n klomp aktiwiteite aangepak. Die doel van die aktiwiteite was om te wys dat niks moontlik is sonder die hulp van die mense rondom jou nie. Ons het toe na binne teruggekeer om nog opleidingsessies te geniet. Die hooffokus was kommunikasie en ons kon toepas wat ons geleer het.
Ons is daarna in twee groepe verdeel en is twee ure gegee om aan ʼn flashmob te werk, wat ons later sou opvoer. Toe ons danse klaar is, het ons tyd gehad om ons safari-uitrusting te gaan aantrek en het daarna kans gekry om ʼn moordraaisel te ondersoek. Almal het ʼn karakter gekry wat ons moes uitbeeld op ʼn 10 dag-safari in Nairobi, Kenia en dit was groot pret.
Na ʼn heerlike aandete, is ons saal toe geroep en die moordenaar is bekend gemaak.
Almal het begin rondskarrel om te vra wie was nou reg en wie was verkeerd. Ons kon toe net die res van ons laaste aand saam met ons vriende geniet, voordat ons die volgende dag weer Kaap toe sou vertrek.
Sondagoggend het ons weer Franse roosterbrood gekry, aangesien dit ʼn groepgunsteling was! Ons het die kans gekry om met die matrieks in groepe te praat oor wat elke leierskapidentiteit in ons skool behels, met ander woorde, watter persoonlikheidstipe die beste sal pas by seniorraad, mentorraad of die Raad van Leerders.
Die kamp was vol geleenthede en geluk en dit was ʼn groot voorreg om dit te kon ervaar. Ek sal dit beslis aanraai vir die toekomstige gr. 10’s.
Isabella Huisamen
Isabella is mal oor hokkie en swem. Wanneer sy nie besig is op die sportveld nie, bring sy tyd saam met haar hond deur.