Die Nederlandse meisieshokkie dagboek

Emma du Toit

Vir ‘n groep meisies wat mal is oor hokkie was ‘n nege-dae-lange reis na Nederland die avontuur van ‘n leeftyd. Hulle kon die Nederlandse kultuur ervaar, van die opwindendste stede in die land besoek en bowenal baie hokkie speel. Nederlandse hokkie is bekend vir sy vinnige en aanvallende speelstyl, wat sekerlik die vaardighede van enige speler sal toets.

Die reis begin met ‘n vlug na Amsterdam, die hoofstad van Nederland. Nadat al 49 meisies en agt afrigters veilig by Schiphol-lughawe land, word hulle na ‘n topklas wedstryd tussen HC Kampong H1 en HDM H1 geneem.

Op dag twee begin die reis in Utrecht, ‘n stad wat bekend is vir sy pragtige kanale en ou middestad. Nadat die meisies toegelaat is om die middestad van Utrecht te verken, is dit tyd om die hokkieveld aan te durf. Die groep speel teen die hokkieklub, Spitsbergen, en kry ook aandete by die klub.

Dinsdag, 28 Maart toer die groep na Snowplanet Zoetermeer, ‘n unieke binnenshuise ski-helling. Die oggend is deurgebring om te ski en die feestelike atmosfeer te geniet. Daarna vertrek almal na Rotterdam waar die spelers en afrigters in die beroemde kubushuise bly. Rotterdam is die tweede grootste stad in Nederland en bekend vir sy moderne argitektuur, lewendige naglewe en bruisende hawe. Dieselfde dag speel die meisies ‘n hokkiewedstryd teen HC Woerden en lewer ‘n indrukwekkende vertoning.

Die volgende dag reis die meisies na Efteling, een van die grootste en gewildste temaparke in Nederland. Hulle spandeer die dag deur roller coasters te ry, betowerde woude te verken en heerlike lekkernye by die vele kafees en restaurante te proe.

Op dag vyf speel DF Malan o. 18A teen Kennemer Lyceum 1. Die o. 16-span speel teen Mendel College o. 16 en die o. 18B-span speel teen Kennemer Lyceum 2. Die meisies speel hul derde wedstryd en ondanks ‘n dapper poging het hulle verloor. Die meisies het nie toegelaat dat die verlies hul gees demp nie, en het die res van die dag die Alkmaar se vele besienswaardighede verken. Laatmiddag speel almal nog ‘n wedstryd teen HC Alkmaar. Die wedstryd was intens, met al die spanne wat indrukwekkende vaardighede en vasberadenheid getoon het. Na die wedstryd ontmoet die meisies hulle gasheerfamilies.

Daar is nie ‘n beter manier om die Nederlandse kultuur te ontdek as om by ‘n gesin in Nederland te bly nie. Die meisies is verdeel in pare en bly vir twee aande by die gesinne.

Op 31 Maart speel die o. 16’s ‘n wedstryd teen Kennemer Lyceum o. 16 in die oggend en in die middag speel die o. 18’s teen Amstelveen College. Middagete is bedien by die skool. Daarna reis die meisies na Haarlem, ‘n skilderagtige dorp wat bekend is vir sy pragtige tulpvelde en oulike strate met boetiekwinkels en kafees.

Teen omtrent 16:30 arriveer die hokkiemeisies by die hokkieklub. Al drie spanne speel teen HC Alliance. Ten spyte van die strawwe kompetisie het die spelers daarin geslaag om hulle koppe hoog te hou en die spanne te wys waarvan DF gemaak is. Na die wedstryde het die gasheerfamilies hulle kom haal en die res van die aand is saam met hulle spandeer.

Op dag sewe groet die meisies die gasheerfamilies en ervaar Nederland op ‘n heeltemal nuwe manier – deur fietse. Alhoewel die meeste meisies fietsry taamlik maklik vind, is daar ‘n paar ander wat dit nie so lekker onder die knie het nie. Nederland is bekend vir sy fietsrykultuur en so het die groep die skilderagtige Haarlem met ‘n ander oog verken.

Die volgende stop is Amsterdam, die lewendige hoofstad van Nederland. Elke dogter kry ‘n trem-kaartjie en is deur die afrigters gewys hoe om die kaartjie te gebruik en by watter stop om op of af te klim. Die meisies kry toe kans om Amsterdam te besoek en van die publieke vervoer gebruik te maak.

Sondag, 2 April is die groep met ‘n boottoer deur die kanale geneem en daarna kry die meisies vrye tyd om Amsterdam verder te verken. Daar was so baie om te sien en doen. Party het die ikoniese Van Gogh-museum, die Anne Frank-huis en kunsgalerye gaan besoek. Ander het deur die bekoorlike strate gestap en van die plaaslike kookkuns geproe. Die dag is spandeer om die stad se ryk kultuur en vele besienswaardighede te verken. Dié aand is die suksesvolle reis met ‘n afskeidsete gevier.

3 April is die laaste dag en almal vertrek al vroeg vanaf die StayOkay in Zeeburg na die lughawe.

Die nege-dae-lange reis na Nederland was ‘n onvergeetlike ervaring vir die hokkiemeisies. Hulle kon hul liefde vir hokkie kombineer met hul passie vir reis en kulturele verkenning. Hulle het nuwe vriende gemaak, opwindende stede besoek en die geleentheid gehad om ses mededingende wedstryde te speel. Die herinneringe aan die reis sal beslis ‘n leeftyd duur, en die vaardighede wat op die hokkieveld aangeleer is, sal die spelers vir ewig bybly.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

eleven − 5 =