[Micke de Jager]
Hy hang nog, skeef en stil,
aan die ou wilger se arm:
‘n stuk tou en hout wat eens gelag het.
Nou kreun hy net wanneer die wind hom soen,
‘n sagte hartseer wieg sonder kinders.
Ek staan waar my voete eens
die grond geweier het.
Waar die lug my ligter gemaak het
as die skaduwees wat nou val.
Ek staan hier voor jou en hoor nog
die applous van die blare
en die lag van ‘n kind wat geglo het
die wêreld kan nie ophou draai nie.
Nou is die hout koud,
gekraak,
en dit ruik na reën
en na iets wat nooit terugkom nie.
Die wilger buig dieper.
Hy praat nie meer nie.
Hy hou net die swaai
soos ‘n man wat weet
sommige gewigte
word nooit weer lig nie.
Ek raak nie aan die toue nie.
Ek is bang hy sal my oplig
een laaste keer,
hoog genoeg om alles te sien,
en dan laat val
in ‘n plek
waar selfs jou naam
ophou bestaan.
