[Lisemarie van Dyk]
In 2025 vier die DF-blaasorkes sy 40ste bestaansjaar – ’n indrukwekkende mylpaal wat saamval met die aftrede van meneer Faan Malan en juffrou Kim Malan na 12 jaar se toewyding aan die orkes.
Die DF-blaasorkes is in 1985 deur meneer Gert Visser begin, op voorstel van die destydse adjunkhoof, Hannes Maas. Die oorspronklike visie van die orkes was om ’n plek te wees waar leerders saam musiek kan maak, nuwe vriende kan maak en saam as ’n span kan groei.
Die orkes het begin met slegs nege lede en instrumente soos ’n alt-horing, fluite, klarinette, trompette, ’n eufonium en ’n tuba. Hulle het aanvanklik klassieke- en Spaans-geïnspireerde musiek gespeel en die orkes het gou uitgebrei en op sy hoogtepunt was daar 72 lede.
Een van meneer Visser se mooiste herinneringe is die 2002-toer na Praag, waar die orkes aan ’n kompetisie deelgeneem het en op die Weense radio gespeel het. Die orkes was vir hom ’n plek van ondersteuning, spanwerk en liefde vir musiek.
Juffrou Dorfling, wat vandag die orkes saam met die Malans bestuur, was self teen die aanbreek van die millennium ‘n orkeslid. “Ek het vyf feestelike jare lank onder meneer Visser se leiding die fluit en die piccolo bespeel. Om in ’n orkes te speel, vra harde werk en gereelde oefening, maar dit bou vriendskappe wat vir altyd hou. Omdat dit ’n uitdaging is om ’n instrument te bemeester en jy baie gereeld moet oefen, is ’n orkeslid beslis iemand met grit.”
Sy beskryf die orkes soos die beat (of hartklop) van ’n skool: “Blaasorkes, koor en ensembles is die klankbaan van mense se skoolherinneringe. Daar is iets spesiaal aan die kragtige klank van ’n orkes wat ’n saal vul.”
Meneer Faan en juffrou Kim Malan het in Oktober 2013 by die orkes aangesluit. Ek het ’n onderhoud gevoer met die paartjie om insig te kry oor hulle ervarings en herinneringe van die afgelope twaalf jaar.
“Die eerste paar maande was vol nuwe gesigte en beginnernote,” onthou meneer Malan. “Maar binne twee maande sou hulle al saam ’n eenvoudige lied kon speel. My gunstelingherinnering was die oomblikke toe die orkeslede begin kliek het met nuwe stukke.”
Meneer Malan vertel ook een van sy snaaksste herinneringe: “Tydens ’n aanlyn les in die COVID-tyd het ’n leerder skielik opgespring en badkamer toe hardloop. Toe hy terugkom, het hy verleë verduidelik dat hy tydens ’n hoë noot een van sy tande – wat besig was om te wissel – binne in die trompet ingeblaas het!”
Die paartjie beskryf DF-leerders as betroubaar, lojaal, behulpsaam en gelukkig. Juffrou Malan voeg by: “Ek gaan die spangees van die orkes die meeste mis.”
Vir DF-leerders wat graag by die orkes wil aansluit of ’n nuwe instrument wil leer speel, het die Malans bemoedigende woorde: “Die opwindendste tyd is altyd aan die begin, wanneer leerders hul instrument kies en vir die eerste keer ’n klank uitkry. Dit vat net ’n bietjie geduld en vasbyt om sukses te behaal.”
Tans het die DF-blaasorkes 42 lede, wat jaarliks aan die Tygerberg Eisteddfod, Windworx Fanfare en verskeie ander feeste deelneem. Hoogtepunte oor die jare sluit toere na die Weskus (2025), die KKNK (2023) en Duitsland (2019) in.
Philip Mouton, blaasbaas van 2025, speel klarinet en beskryf die orkes as ’n ruskans van die hoërskool se druk. “Ek het in graad 8 begin, nog met maskers tydens COVID. Gelukkig is ons intussen ontslae van die maskers en my bladlees het beslis sedertdien verbeter!”
Van Kurt Darren-liedjies sing op toer tot laataand Uno-speletjies en houtblasers wat squeak, een ding bly seker: die DF-baasorkes maak herinneringe wat die biesies laat bewe.
Een van Philip se gunstelingherinneringe was die Genadendal-toer in 2023: “Die braai saam met pelle, die optrede in die kerk en laat wakker bly sal altyd vir my spesiaal wees.”
Sy hoogtepunt hierdie jaar was ’n optrede in Kleinmond: “Ek onthou dat ons so gemaklik en passievol gespeel het. Jy kon hoor hoe die orkeslede dit geniet en die gehoor het dit weerspieël.”
Phillip se raad aan toekomstige orkeslede is eenvoudig: “Oefen!”
Dit is vir ons baie moeilik om afskeid te neem van juffrou Kim en meneer Faan. Ons is baie dankbaar vir alles wat hulle in die orkes en sy leerders belê het en ons gaan hulle baie mis.
By die 40-jaar-reünie op 30 September is aangekondig dat jufffrou Rosanne Lesch vanaf 2026 as voltydse musiekonderwyseres en dirigent van die blaasorkes by DF sal aansluit. Die orkes sien uit na hierdie nuwe hoofstuk en ons hoop sy voel vinnig deel van die DF-familie.
Dit is die einde van ’n era vir meneer en juffrou Malan en die DF-blaasorkes groet hulle met dankbaarheid en liefde in ons harte. ’n Nuwe hoofstuk lê voor en ons kan nie wag om te sien watter herinneringe volgende gemaak gaan word nie.
Lisemarie van Dyk
Lisemarie is mal oor musiek en wiskunde. Haar beste vriend is haar skeinatboek en jy sal haar gewoonlik by die naaste klavier opspoor.
