Die verhaal van die 20-keer Grand Slam-titelhouer

Mickayla Olivier

Roger Federer is op 8 Augustus 1981 in Basel, Switserland gebore. Hy het sy tennistalent ontdek toe hy agt jaar oud was en kort voor lank het hy op veertien, Switserland se junior kampioen geword. Dit was slegs die begin van sy loopbaan.  Hy het dadelik ‘n  blywende indruk gemaak toe hy die jongste tennisspeler (18 jaar en 4 maande) geword het om in die wêreld se top 100 spelers geplaas te word.

In sy loopbaan het Federer 20 Grand Slam-titels en 103 toernooie gewen. Hy is ook die titelhouer van 30 Guinness World Records, maar na 24 jaar, tree die tennislegende op die ouderdom van 41 af.

Op 15 September 2022, het Federer aan die wêreld bekend gemaak dat hy dié jaar gaan aftree. Die besluit het gevolg nadat rehabilitasie vir ‘n knie-operasie nie volgens plan verloop het nie. Federer skryf op Twitter: “Soos die meeste van julle weet, het uitdagings in die vorm van beserings en operasies my die afgelope drie jaar getref. Ek het hard gewerk om terug te keer, maar ek ken ook my liggaam se vermoëns en perke. Sy boodskap aan my die afgelope tyd is duidelik.” 

Hy het sy finale professionele tenniswedstryd op Vrydag, 23 September 2022 gespeel. Federer en tennistalent, Rafael Nadal, het saamgespan vir ‘n dubbelswedstryd teen die Amerikaanse duo, Frances Tiafoe en Jack Sock.

Annabel Croft, ‘n voormalige Britse tennisspeler, vertel aan Sky Sports: “Hy het ongelooflike aanhangers gehad en dit het nie saak gemaak teen wie of waar hy gespeel het nie, mense wou altyd gehad het dat hy moes wen. Hy sal onthou word as een van die bestes van alle tye.”

Sy loopbaan mag dalk verby wees, maar sy impak op die baan en van die baan af, sal altyd bewonder word. Hy is die beste voorbeeld van iemand wat sy drome gevolg het, maak nie saak wat hom in die gesig gestaar het nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

nineteen + eight =