Elske Oosthuizen
Dieretoetsing beïnvloed miljoene diere wêreldwyd. Hierdie praktyk misbruik diere om skoonheidsmiddels en huishoudelike produkte te toets. Maar wie het besluit dat hierdie toetsing eties is?
Daar word al vir jare gedebatteer oor die gebruik van diere in navorsing om sodoende die veiligheid van produkte te toets. Volgens F. Barbara Orlans se boek, Name of Science: Issues in Responsible Animal Experimentation, word omtrent 60% van hierdie diere in produkveiligheidstoetsing en biomediese navorsing gebruik.
Party mense beskou diere as ‘n manier om mediese tegnieke of eksperimentele navorsing te bevorder. Diere word tans deur navorsingsfasiliteite en skoonheidsmiddel-maatskappye regoor die wêreld uitgebuit. Daar word gebaat by suksesvolle dierenavorsing, maar die pyn, lyding en dood van diere is nie die suksesse werd nie.
Tom Regan, ‘n filosofieprofessor aan die Universiteit van Noord-Carolina sê: “Diere het die basiese morele reg om met respek hanteer te word. Dit word nie toegepas wanneer diere soos gereedskap gebruik word vir eksperimente nie.” Diere kan net soos mense voel, dink en pyn ervaar.
Die American Veterinary Medical Association definieer dierepyn as ‘n onaangename sensoriese en emosionele ervaring. Dit kan beskou word as voortspruitend uit ‘n spesifieke deel van die liggaam en word geassosieer met werklike of potensiële weefselskade.
Dieretoetsing is onnodig omdat daar alternatiewe metodes beskikbaar is.
Daar is ‘n paar metodes wat as alternatiewe gebruik kan word om dieretoetsing te vermy. Eyetex is ‘n sintetiese materiaal wat ondeursigtig raak wanneer ‘n produk onveilig is. Vitro-toetsing is sellulêre toetse wat binne ‘n proefbuis gedoen kan word.
Ander glo dat dieretoetsing aanvaarbaar is omdat diere minderwaardig is teenoor mense en dus geen regte het nie. Die feit dat diere laer as mense op die evolusionêre kaart is, maak dieretoetsing nie eties nie. Baie diere besit organe en interne sisteme wat identies is aan die strukture en funksies van die mens. Diere het net soos mense gedagtes, gevoelens, behoeftes en begeertes.
Ten slotte: Dieretoetsing is moreel verkeerd. Diere het net soveel reg soos mense om die planeet te geniet. Doen jou deel deur navorsing te doen oor maatskappye se produkte voordat jy dit koop om te verseker dat jy nie dieretoetsing ondersteun nie.
