Nienke de Vaal
Waarmee assosieer jy die kleur pienk? Daar is seker verskeie pienk prentjies wat in jou kop verskyn.
Die kleur pienk word wêreldwyd geassosieer met borskanker-bewustheid en in Oktober, tydens borskanker-bewusmakingsmaand, werk organisasies en gemeenskappe saam om hierdie kwessie te ondersteun.
Borskanker is nie net algemeen nie, maar ook lewensgevaarlik. Hierdie tipe kanker raak een uit elke 28 vrouens en alhoewel raar, kan mans ook borskanker kry.
Borskanker ontstaan wanneer selle in die borste abnormaal groei. Faktore wat die risiko vir borskanker vergroot, sluit in: vrouwees, borskanker in die familie-geskiedenis, hoërisiko gene en ouderdom. Wees waaksaam en bespreek enige knoppe in jou bors met ’n dokter. Alle vroue ouer as 40 behoort jaarliks ’n mammogram te oorweeg.
Op 30 September 2022, die laaste dag van die derde kwartaal, het ons as skool `n Think Pink-pretloop, ter ondersteuning van borskanker-bewusmakingsmaand, gehou. Dit het ook gedien as ’n fondsinsameling vir Die Kankervereniging van Suid-Afrika.https://cansa.org.za/breast-cancer/
Vir dié gratis pretloop was leerders aangemoedig om volgens die pienk tema aan te trek. Van feetjies tot flaminke, was daar oral pienk. Na die pretloop was daar ’n pienk-piekniek op die rugbyveld waar leerders roomys en spookasem kon geniet het.
KANSA het `n Shave-a-thon en Spray-a-thon gedurende die dag gehou. Leerders het dol gegaan met die verskillende kleure op hulle hare. Sommige Dee-Effers het hul ondersteuning gewys deur hulle hare af te skeer.
Ons skool het hulle ondersteuning gewys, maar hoe kan jy borskanker ondersteun? Dra pienk, skenk geld aan organisasies soos KANSA of skenk jou hare om pruike te laat maak. Bly ingelig oor borskanker en gesels met ander om hulle bewus te maak daarvan. Die kleinste dade maak soms die grootste verskil.