“Dit gaan nie altyd oor my nie”: Graad 10-leierskapkamp

[Mieke Verster]

Na ’n langdradige kwartaal, het ‘n klompie ywerige graad 10-leerders die voorreg gehad om saam met juffrou Solomon en ’n paar ander DF-onnies die grondpad na Mizpah aan te pak, waar hulle meer oor hulself en hul mede-Dee-Effers geleer het.

Woensdagoggend het die eerste twee periodes van die dag ekstra lank gevoel, voordat die groep van omtrent 70 leerders die pad gevat het Mizpah toe. Hier is ons met ope arms verwelkom en ’n paar basiese reëls is verduidelik. Almal het toe vinnig weggeskarrel om hulle eetgerei te kry vir ’n liplek-lekker middagete voor die eerste klomp aktiwiteite. 

Ons is in groepe opgedeel en het mekaar dadelik beter leer ken. Alhoewel ons almal vir amper drie jaar in dieselfde skool is, het hierdie kamp ons laat besef hoe min ons werklik van mekaar weet. Ons het vinnig mekaar se sterk- en swakpunte ontdek deur die loop van agt speletjies. 

Elke speletjie het meer vertroue in elke groep opgebou en aan die einde is al ons punte opgetel om ons ’n sekere aantal niki-bucks, wat by daardie aand se veiling gebruik kon word, te gee. Dit was ’n baie stil veiling, met min bewegings, maar met groot pryse op die spel vir elke groep se tuisgemaakte aandete. Hier was die waaghalsiges die uitblinkers, maar die regte vraag was: Weet jy hoe om pasta gaar te maak? Dit was skokkend hoe baie van ons nie geweet het nie. Ons het tot laat daardie aand nog aktiwiteite gedoen om meer van mekaar te leer en het die lang dag met ’n koppie warmsjokolade afgesluit.

Halfagt die volgende oggend was almal in die saal, reg vir ontbyt. Ons het spoedig daarna met aktiwiteite begin. Hierdie aktiwiteite het ons manier van kommunikasie uitgedaag en vir ons gewys hoe belangrik alle vorme van kommunikasie is. 

Braam, die kampbestuurder, het ook vir ons geleer dat daar dikwels, as ’n leier, slegs jou foute raakgesien gaan word. Hy het dit gedemonstreer deur ’n aktiwiteit waar jy heeltyd ’n fluitjie hoor wanneer jy ’n fout maak en glo my – jy gaan baie daardie fluitjie hoor.

Na nog ’n middagete waar ons almal nog ’n bordjie wou gaan skep, was dit tyd om aan ons flashmobs te oefen. Hier het ons besef wie die sterk en kreatiewe leiers is wat vinnig ’n groep kan stilmaak om te luister en te leer. Ons het hard gewerk aan ons dansies wat ons later daardie aand sou opvoer, maar dit was toe eers tyd om ons narkostuums te gaan uitpluk. 

Almal het vreesaanjaend gelyk in die rokke van hulle nuwe karakters, reg vir die lang verwagte murder mystery-speletjie. Ons is in tafels ingedeel en het dadelik weggespring om te probeer uitvind wie die moordenaar by die sirkus is. Terwyl ons gespeel het, is aandete bedien en kort voor lank het almal hulle finale antwoorde uitgeskree. Ons het die aand afgesluit met ’n skop-jou-skoene-uit sokkie en het ons laaste pakke geheime lekkers daardie aand opgeëet.

Met hartseer harte het ons die volgende oggend opgestaan en begin pak. Alhoewel ons geen aktiwiteite daardie dag gedoen het nie, het ons baie geleer van elke leierskapposisie in die skool. 

Die gr. 11’s, wat saam op die kamp gekom het, het stap vir stap vertel hoe om aansoek vir elke tipe leierraad in die skool, naamlik die seniorraad, mentorraad en VRL (Verenigde Raad van Leerders), te doen. Hulle het vir ons vertel watter pesoonlikheid by elkeen van hierdie rade pas en wat jou pligte en verantwoordelikhede sal wees as jy die voorreg het om op een van hierdie rade te dien.

Hierdie is een van daardie ervaringe wat jy nooit sal vergeet nie. Die hoeveelheid wat jy van jouself leer, is skokkend en om te besef watter impak jy op ander kan hê, sonder om enige iets te sê, is goud werd. Hierdie kamp kan enige iemand laat groei, nie net as ’n leier nie, maar as ’n persoon. Dit laat jou besef: “Dit gaan nie altyd oor my nie.”

Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.

Mieke Verster

Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.