Een ongeluk weg 

[Danny Booysen]

Het jy al op ‘n hoofpad gehardloop 

net om die konstante gejaag  

te kan visualiseer: 

haastiger en vinniger 

met asem wat al vlakker word 

en spiere wat brand  

want dis ‘n beter seer om te ervaar 

as die ewige las van spyt en verlange, 

en dan deur die rukwind langs jou 

van die trok op die hoofpad 

aangetrek word deur ‘n wens 

wat jy nie hardop mag sê nie? 

‘n Wens wat al jou pyn sal wegvat.  

Dis net ‘n oogwink weg. 

Een ongeluk weg.  

Want ek het al. 

Maar tog het ek nie.  

Sien, die vreemde ding van donkerte 

is dat jy nie weet jy is in ‘n gat 

totdat jy daaruit klim nie;  

die skaduwees is verleidelik;  

die duiwel is listig – en 

hy sal altyd wees.  

Dit is byna onmoontlik om 

self te voorkom dat jy  

in daardie  

gat sal  

gly. 

Skaduwees is verleidelik: hulle 

sal soos mis die brandende skemerlig 

só verdof dat jy nie eens saans die  

prag van die sonopkoms kan ervaar nie;  

al jou hartsbegeertes word deur dié 

neerdrukkende wit kombers verswelg.  

Die lewe word ‘n rat race – 

‘n konstante gejaag in ‘n resies 

wat net aardse dinge as prys beloon.  

Wat van die groter prys? 

Die groter Geskenk? 

Wat help dit dan ons streef só na 

sukses in materiële dinge dat ons 

vergeet om ons lewe te verloor – 

Here,  

vernuwe ons denkwyse; 

maak ons ore oop; 

help ons om te onderskei 

wat die wil van God is,  

sodat alle innerlike twyfel 

kan wegsypel; 

Here, help vir ons om in alle 

besluitneming altyd eerste na 

U toe te draai; maak ons harte oop; 

vul ons met U teenwoordigheid; 

vul ons met U  

onvoorwaardelike 

liefde.  


Danny Booysen