Eindstrepe en fluitjies : Haal asem met die Herout

[Nienke de Vaal en Mieke Verster]

Met ‘n interskole wat ons almal se studieroosters omgegooi het, ons matrieks wat so naby aan die eindstreep van hulle skoolloopbane is en interhuis wat darem nog ‘n hele paar meter weg lê, is hierdie beslis nie ‘n stadige kwartaal nie. Die resep om jou tweede asem vir die kwartaal te kry? Vat ‘n breek en geniet die Herout.

‘n Bedrywige interskole is agter die rug en DF se leerders het definitief hulle blou bloed oral op Bellville se skoolgronde gewys. Vanaf debat, die kookkompetisie, spelathon en natuurlik op die sportvelde, het DF hulle alles gegee om die katjies te laat skree. Ons week het begin met dol dasse, gesigverf wat die wêreld vol gelê het en natuurlik vroegoggende by die skool om ons nuutste kreet aan te leer. Donderdag was dit al weer tyd vir ons jaarlikse J&B Met en die matrieks se audacity-dans, wat definitief ‘n paar gr. 8’ies geskok het. Alhoewel die tellingbord nie hierdie jaar aan DF se kant was nie, was dit ‘n interskole om te onthou en volgende jaar, wanneer interskole weer op die MTBS-geesbekerwenners se gronde is, gaan Bellville stert tussen die bene terug huis toe moet gaan. 

Die matrieks van 2025 se tydjie by DF raak ook nou al hoe korter. Met net nog twee weke van amptelike skoolgaan oor, voel almal alkaar bietjie nostalgies oor die vyf jaar wat so vinnig verby gevlieg het. As jy jou oë uitvee, is dit verby – die afgelope jaar van laastes het dié besef laat insink. Die graad 12’s is in hul laaste stukkie van die DF-wedloop, maar hulle gaan beslis nie spoed verloor vir die laaste paar treë tot die eindstreep nie. Sterkte, matrieks! Ons wens vir julle die beste toe.

Terwyl die matrieks se angs opbou met die naderende rekord- en eindeksamen wat om die draai vir hulle sit en loer, lê hul gedagtes heel moontlik by die glansgeleentheid van die jaar – matriekafskeid. Op die aand van 1 Oktober gaan hulle met skitterende uitrustings oor die rooi tapyt loop en die skare betower, so maak seker om dit nie mis te loop nie.

Alhoewel daar nog ‘n hele toetsreeks vir ons voorlê, is interhuis definitief al in sommige van ons leerders se agterkoppe. Na ‘n lang oudisieproses, is ons interhuisdirigente vir 2025 gekies en reg om hulle spanne na die wenstreep te motiveer. Oudisies was wel die maklike deel vir hierdie aspirantdirigente en met die skryf van ‘n twee minuut-kreet wat voor hulle lê, het hierdie dirigente definitief hulle hande vol. Gaan lees gerus Caro Thirion se artikel as jy dalk ook belangstel om “blou is ons blazers” voor 300 leerders tydens interhuis te sing. Of jy nou Solaris, Protius of Artius is, gaan merk solank jou kalender vir hierdie dag vol gees.

Boodskap van Nienke:

Na vyf jaar van elke kwartaal Herout-artikels skryf, is dit met ’n hartseer hart dat ek nou vir die wonderlike Herout-redaksie totsiens sê. Middae, laat aande en vroeë oggende is aan dié koerant bestee, maar ek sê dit met trots, want ek kon deel wees van iets wat ek met ander kon deel. 

Ek moet beslis die span leerders wat almal help om die skoolkoerant aanmekaar te sit, bedank. Julle is die boustene van die Herout-kasteel wat met elke uitgawe net weelderiger en weelderiger raak. Joernaliste – hou aan om kraakvars en vermaaklike artikels te skryf. Onthou jy kan nooit verkeerd loop as jy passievol daaroor skryf nie. Dankie fotograwe en illustreerders wat altyd bewys dat ’n prent ’n duisend woorde werd is.  Dankie tegniese span, Lohen en Ettienne, wat agter die skerms (letterlik) die helpende hand is wat die eindproduk van ’n digitale skoolkoerant moontlik maak. Baie dankie juffrou Fuchs dat jy altyd met soveel sorg na die artikels kyk. Jou tyd en moeite word regtigwaar waardeer. Sterkte aan die res van die redaksiespan wat agterbly – julle moet sterkstaan en aanhou bewys dat koerantlees nie net vir oumense is nie.

Ek dra my tyd by die Herout aan my oupa Barry, wie se passie vir woorde en taal ek geërf het, op. Hy was my inspirasie agter die aansluit by dié skoolkoerant.

Dankie Herout ♡