[Naomi Deacon]
Griekse gode, donderstorms, oorlog en risiko’s wat jou lewe in gevaar kan stel…
Maar sê nou dit word alles deur sang oorgedra?
EPIC: The Musical is ’n konsepalbum wat beteken dat dit ’n verhaal is wat slegs deur musiek en sang oorgedra word. Dit bestaan uit 40 liedjies en is 143 minute lank. Daar kan wel na die volledige fliek in die vorm van strokiesprentagtige animasie-sketse, wat deur die aanhangers van die musiekblyspel geskep is, gekyk word. Die animasie is later saamgestel om die aaneenlopende fliek te vorm.
EPIC: The Musical is ’n hervertelling van die bekende antieke Griekse mite “The Odyssey” wat tussen 750 en 650 v.C. deur Homer, ’n Griekse digter, geskryf is. Die storie speel af net na die einde van die Trojaanse oorlog. Dit volg die held, Odysseus, en sy soldate se stryd om weer by hul koninkryk uit te kom terwyl hulle teen verskeie monsters, gode – en soms selfs hul eie gewete – moet veg om te verseker dat hulle aan die lewe bly. Dit is ’n baie donker, sielsverskeurende verhaal met ’n bittersoet einde.
Omtrent elke karakter met enige kapasiteit vir liefde in hul harte gaan dood. Tog, selfs met al die emosionele pyn wat dit veroorsaak, is dit ’n fantastiese storie, gevul met avontuur en onverwagse draaie in die intrige wat jou van die begin tot die einde daaraan vasgenael sal hou.
Die regisseur en skrywer van EPIC: The Musical, Jorge Rivera-Herrans, spesialiseer in storievertelling en musikale teater. Hy vertolk self die rol van die hoofkarakter in sy produksie. Die musiek in EPIC: The Musical is fenomenaal gekomponeer. Elke karakter het ’n spesifieke instrument wat met hulle geassosieer word. Daar is ook liedjies wat vir ’n paar sekondes eenderse note het om ooreenkomste tussen verskillende gebeurtenisse in die verhaal uit te beeld. Slegs die aandagtige luisteraar sal dit kan waarneem.
Die akteurs se stemwerk is uitstekend gedoen en jy kan die emosie in hul stemme aanvoel wanneer hulle sing.
Die volledige film kan op YouTube gevind word, alhoewel dit moeilik kan wees om dit op te spoor, as gevolg van die baie variasies. As jy belangstel om na dit te kyk, besoek gerus die volgende skakel:
https://m.youtube.com/watch?v=dOAqZJgCTVM&pp=ygUQZXBpYyB0aGUgbXVzaWNhbA%3D%3D
EPIC: The Musical is perfek vir enige persoon wat lief is vir Griekse mitologie, dramatiese musiek wat vir dae in jou kop vassteek of sommer iemand wat graag oor ’n naweek na ‘n fantastiese fliek wil kyk in plaas daarvan om hul wiskundehuiswerk te doen. Gryp dus jou kombers en kussing, gaan sit op die bank met ’n bak springmielies en maak gereed om jou oë rooi te huil – op ’n goeie manier.
Naomi Deacon
Naomi bring haar skooldae met ’n neus in haar boek en ’n pen in haar hare deur. Die verf op haar hande spreek boekdele oor haar kreatiwiteit, maar as dit groen is, is dit van die plantjies wat sy kweek.
