[Hanler van Eck]
Het jy al ooit gewonder wat gebeur as jy miljoene rande vat, dit op ’n motor spandeer en mense dan daarmee laat jaag teen 300 km per uur? Nee? Welkom by die wêreld van Formule 1, een van die mees gerespekteerde motorsporte ter wêreld. Selfs die filmbedryf het onlangs hierdie sportsoort uitgebeeld deur F1: The Movie, met Brad Pitt in die hoofrol en regisseur, Joseph Kosinski, wat filmkykers se veiligheidsgordels heeltemal afgeruk het.
Die kar:
’n F1-kar is nie jou gewone motortipe nie. Dit is amper soos ’n vlieënde rekenaar, met ongeveer 250 sensors wat druk-, temperatuur- en allerhande tipes data gedurende die hele wedrennaweek meet. Hierdie data help die ingenieurs om aanpassings te maak, wat ‘n kritiese rol speel in die maak-of-breek van die eindseisoenresultate. Die kar het ook verskeie slim stukkies tegnologie, soos DRS (drag reduction system), wat die agtervlerk oopmaak sodat die bestuurders vinniger kan oorneem.
Die koste van ’n F1-kar beloop ongeveer R300 miljoen. Dis geld waarmee jy vir elke mens in Suid-Afrika ’n roomys kan koop… elke dag vir ’n week. Of jy kan al die slaggate vanaf Oudtshoorn tot Pretoria herstel, ’n paar noodsaaklike openbare skole oprig en steeds genoeg oor hê vir ’n vliegtuigkaartjie Monaco toe. Maar nee, dis net vir een motor wat elke Sondag weer kan breek.
Interessante feit : Die vinnigste spoed wat al ooit aangeteken is in ‘n Formule 1-wedren is ‘n verstommende 378 km per uur deur Valtteri Bottas wat vir Williams-Mercedes gery het.
Die spanne:
Formule 1 is die toonbeeld van spansport, al dink mense die teenoorgestelde. Elke span bestaan uit twee bestuurders en ‘n samestelling van ingenieurs, strateë en bandkenners, wat almal saamwerk om die kar so vinnig as moontlik te maak. McLaren is tans die baas op die baan, Ferrari jaag hard agterna, al misreken hulle soms hul eie planne en Mercedes probeer hul bes om op te vang. Ander spanne soos Alpine en Aston Martin druk stadig maar seker vorentoe. Dis nie net wie die vinnigste ry nie, maar wie die slimste span agter die skerms het.
Interessante feit : Elke span bestaan uit ongeveer 300 tot 1 200 mense wat hul beste probeer om ’n paar tiendes vinnger as die res te wees.
Strategieë:
’n F1-naweek is nie net ’n vinnige Sondagmiddag nie. Elke wedrennaweek is ’n strategiese oorlog wat oor drie dae afspeel: Vrydag kry bestuurders die kans om te toets of die kar reg voel, wat bekend staan as practice. Saterdag bring qualifying, die deel waar jy jou plek op die beginrooster verdien, en waar een klein foutjie jou ‘n podiumposisie kan kos. En dan kom Sondag: die Grand Prix self, 50 plus rondtes van hoë spoed hoendervleis.
Spoed en strategie is albei van kardinale belang om die seisoen se kampioenskappe te wen. Wanneer moet jy jou pitstop maak? Gaan jy vinnig begin en later sukkel of gaan jy alles in die eerste helfte gee of wag vir die chaos? Verkeerde bandkeuse? Daar gaan jou podiumplek. Selfs in F1: The Movie het Brad Pitt se karakter sy hele strategie in die middel van die wedren verander, nie om self te wen nie, maar om sy jonger spanmaat, en sodoende sy span, te bevoordeel.
Die wedrenne vind oor 24 verskillende, internasionale bane plaas. Daar is selfs sprake van F1 wat terugkom na die Kyalami-baan in Johannesburg. Punte word aan die top-10 gegee en deur die seisoen probeer bestuurders en spanne punte bymekaarskraap om kampioene te word. Bestuurders mik dikwels om die Drivers Championship (die bestuurder met die meeste punte) te wen, terwyl spanne hul eie geveg voer vir die Constructors Championship (die span met die meeste punte).
Interessante feit: Elke F1-pitstop behels tipies 20 mense wat soos ’n masjien saamwerk en die wêreldrekord staan vandag op 1.80 sekondes.
So, volgende keer as jy sien hoe 20 karre soos vlamme oor ’n baan vlieg, sal jy darem genoeg inligting hê om hierdie adrenalienbelaaide sport te navigeer. En as jy dink dis rof om ’n groepsprojek in te handig… probeer om dit teen 300 km per uur te doen, met die wêreld wat kyk. Of kyk F1: The Movie, dis amper net so intens.
Hanler van Eck
Hanler is beslis ‘n liefhebber van die literêre wêreld. As jy hom nie op die astro of by kooroefeninge opspoor nie, sal hy waarskynlik in die kombuis wees, besig om geflopte nageregte te maak.