[Danny Booysen]
My hart was geseël
bottoe geblik
‘n Kruipende vakuum het
alle suurstof om my getrek
Dis hoe dit voel om te versmoor:
jy kan nie dink nie;
jou kop is altyd leeg –
‘n Mens sou dink seer voel is
erger as niks voel
Maar as sommige leemtes
te lank leeg bly
kan hulle nie sommer weer
gevul word nie –
Altans nie met regte emosies nie.
En toe ontmoet ek vir jou
Jy het my leer ken met ‘n
muur om my hart –
so hard al versteen dat
ek nie eers gedink het dit
sal ooit val nie
Ek was duidelik verkeerd:
Want elke dag saam met jou
verkrummel ‘n klein
stukkie van die muur
Dit is eintlik onopsigtelik,
maar elke dag is ek
‘n bietjie gelukkiger en ‘n
bietjie minder bang.
Natuurlik,
wil niemand dit erken nie;
Vrees is nie maklik om
te deel nie
Maar ek was bang om
weer emosies te voel
Dis makliker om moeilike
dinge te hanteer
as jy geen emosionele
verbintenisse het nie
Jy word nie teleurgestel
of seergemaak nie
Maar jy leef ook nie –
ons is nie so gemaak nie.
Mense is bedoel om
dinge te beleef,
dinge te geniet,
om verlief te raak,
om lief te hê
En dit kan net gebeur as
ons emosies toelaat om
ons heeltemal te verswelg
Dit neem jou hele
wese oor totdat jy
geen beheer oor het nie
Maar daardie beheerloosheid
is die beste gevoel wat
enigiemand kan ervaar.
Met jou verloor ek beheer
Jou teenwoordigheid
doen iets aan my –
Dis die beter tipe
suurstoftekort
Jy breek my mure af en
nou lê daar net krummels
rondom my
Jy leer my weer
hoe om te voel,
hoe om te ervaar,
hoe om verlief te wees
en hoe om lief te hê
Daarvoor is ek vir ewig dankbaar.
Danny Booysen