Hartklop van die pawiljoen

[Caro Thirion]

Interhuis is om die draai en dit beteken dat dit amper tyd vir nuwe dirigente is. Baie van DF se geesgedrewe leerders wil graag toekomstige dirigente wees en wonder hoe die proses om daar uit te kom, werk. Vandag beantwoord Janke van Niekerk, MTBS-dirigent van 2025, ‘n paar vrae vir nuuskierige leerders.

Moet jy goed kan dans om ‘n dirigent te wees?

Ek sal nou nie sê dat jy ‘n goeie danser hoef te wees nie, maar jy moet darem goeie ritme hê om saam met die liedjies en medleys te kan dans.

Moet jy vooraf die medleys uit jou kop uit ken?

Ja, jy moet vooraf die medleys ken. Ons het sommer vir vorige dirigente gevra om ons te help om dit vir ons te leer, wat ‘n groot voordeel was. As jy genoeg aandoefeninge bygewoon het, het jy eintlik ‘n goeie basis van al die medleys. 

Hoe moeilik is dit om ‘n dirigent te word?

Om een te word, was definitief nie maklik nie. By elke oudisie het my hart so vinnig geklop van die stres, maar eintlik het ek dit baie geniet om saam met die hele groep mense ons gees vir ons skool te wys. Interhuis was wel iets anders, omdat ons ‘n hele kreet moes skryf. 

Wat is jou gunstelingdeel van ‘n dirigent wees?

Die obvious een is natuurlik dat ek deel van ons skool se geesspan kan wees. Dit was nog altyd ‘n passie van my, vanaf laerskool. Die beste deel was wel dat ek saam met ‘n fantastiese groep mense kon werk. Ons almal ondersteun mekaar en kyk uit vir mekaar. Ek het baie sterk verhoudings met die span gebou.

Hoe baie oefen julle oor die algemeen?

Vir Interhuis het ons amper al ons pouses opgeoffer omdat ons die kreet geskryf en geoefen het. Vir MTBS het ons die laaste twee weke van skool in Desember aan die kreet gewerk en alles uitgewerk. Gedurende MTBS-tyd was ons elke oggend vroeg by die skool, maar elke oomblik saam met die span was die moeite werd.

Wat kan jy doen om uit te staan as jy gekies wil word om ‘n dirigent te wees?

Dit is ‘n moeilike vraag, ek is nie eintlik heeltemal seker nie. Wees net jouself, moenie ‘n ander prentjie van jouself voorgee nie. Wys net hoe passievol jy oor gees is en hoe baie jy dit geniet.

Was jy al ooit bang om ‘n fout tydens ‘n MTBS- of medley-oefening te maak?

Ja, natuurlik. Ek raak bloedrooi wanneer ek ‘n fout maak. Ek het darem geweet dat ek eintlik selfvertroue moet hê en dat almal foutjies maak.

Raak jy senuweeagtig as jy voor al die mense moet dans en sing? As jy doen, hoe kalmeer jy jouself?

Aan die heel begin was ek baie bang, want ek was gewoond daaraan om deel te wees van die leerders wat vir die dirigente kyk. Daar kan jy mal gaan, want niemand kyk eintlik vir jou nie. Ons onderwysers het ons wel gehelp indien ons gestres het.

Hoe was dit om saam met die onderwysers te werk?

Dit was amazing. Jy leer hulle op ‘n heeltemal ander vlak ken. Dit was eers ‘n aanpassing, want dis nie elke dag wat jy grappies met jou onderwysers kan maak nie. Ek sal enige tyd na hulle toe gaan indien ek oor iets wil praat.

Hoe lank vat dit om ‘n kreet of ‘n medley te skryf en danse daarvoor uit te werk?

Ons het die laaste twee weke van skool, verlede jaar in Desember, aan ons kreet gewerk en die danse uitgewerk. Ek is nie seker hoe lank elkeen gevat het nie, maar ons het baie geëksperimenteer met verskeie liedjies en danse voordat ons by die finale produk uitgekom het.

Is dirigente betrokke met die ontwerp van die flashes?

Dit is hoofsaaklik die onderwysers wat dit vorm, maar hulle het heeltyd gevra vir terugvoer indien hulle nie seker was oor iets nie. Ek dink hulle het ‘n baie goeie werk gedoen met die ontwerp.

Het jy enige raad vir toekomstige dirigente?

Wees jouself, geniet elke oomblik en moenie in jou gemaksone bly nie!

Die hele skool wag in spanning vir ons interhuis- en toekomstige MTBS-dirigente om gekies te word. Janke verduidelik vir ons dat om ‘n dirigent te wees, gaan nie slegs oor hoe goed jy ritme kan hou nie. Jy moet werklik blou bloed hê en baie passievol wees, want ons skool se dirigente is die hartklop van die pawiljoen.

Caro Thirion

Caro spandeer die meeste van haar tyd aan kultuur. Sy is deel van die koor en dans as ‘n buitemuurse aktiwiteit. Sy geniet dit om na musiek te luister, maar as jy vir haar vra wat haar gunstelingliedjie is, sal sy nie slegs een kan kies nie.