[Emma Schneeberger]
Ons hoor al jare lank hoe belangrik herwinning is, maar weet ons hoekom en hoe? Selfs die kleinste lekkergoedpapiertjie maak ’n verskil en help om afval te verminder en hulpbronne te bespaar.
Wêreldwyd word net 9% van plastiekafval herwin. In 2022 is ongeveer 400 miljoen ton plastiek vervaardig, maar net 9,5% daarvan was van herwinde materiaal. Dis ’n mondvol – en ’n asblik vol.
Dink aan glasbottels, koerantpapier en daardie plastiekhouer wat jy moes herwin het, maar tog in die gewone drom gegooi het. Elke stukkie maak ’n verskil aan ons planeet. En die goeie nuus? Ons kan nog help om ons aarde groen te hou.
Herwinning beteken nie jy moet grond eet of jou eie tandepasta begin maak nie. Dit beteken jy gooi dinge in die regte dromme, sodat dit weer gebruik kan word om nuwe produkte te maak. Dis soos ’n tweede lewe vir jou ou tweeliterbottel.
As elkeen van ons net een plastieksak of bottel herwin, beteken dit minder gemors in die strate en minder plastiek in die see. Minder afval lei tot minder probleme vir diere, plante en ons longe.
Maar die vraag is: Wat kan ons doen?
● Gooi die regte afval in die regte drom. Dit help, al dink jy nie so nie.
● Tel rommel op, selfs al is dit nie joune nie.
● Sluit aan by herwinningsprojekte wat help om ons omgewing te beskerm.
● Moedig jou familie en vriende aan om ook te herwin!
Herwinning gaan nie net oor blikke en bottels nie – dit gaan oor besluite. Elke keer wat jy kies om iets te herwin, maak jy ‘n deel van die aarde net ‘n klein bietjie beter.
Die krag is in jou hande. Die toekoms van vandag se planeet hang af van wat ons nou doen. Maak ’n verskil. Begin herwin. En hou op om jou papiertjies in jou skooltas te bêre. Ons weet jy doen dit.
Emma Schneeberger
Emma is ‘n gr. 8-leerder wat mal is oor lees, skryf en stap. Dit was nog altyd haar droom om vir iets betekenisvol te skryf, so die Herout is soos ‘n droom wat waar geword het.
